Met die toetsreeks teen Engeland vars in die geheue, wonder ’n mens soms wat die
verskil tussen wen en verloor op die rugbyveld bepaal. En of dit aansluit by die beginsels
vir sukses in die lewe.
Rugby het vier beginsels, naamlik vorentoe, kontinuïteit, ondersteuning en druk. Teoreties
behoort ’n span wat die vier beginsels effektief toepas, wedstryde te wen. Terwyl ek die Bokke
se vertoning probeer ontleed het, het ek gewonder hoe toepaslik hierdie beginsels is vir
sukses in die spel van die lewe. Hoe kan ek hierdie beginsels in my besigheid, persoonlike en
geestelike lewe toepas?
Die eerste beginsel is vorentoe. Om punte aan te teken, moet jy vorentoe gaan, en daarvoor
kan jy verskillende strategieë volg: hardloop, skop en vernuftige aangee, of ’n kombinasie
hiervan. Spoed en krag is twee van jou sterkste wapens om vorentoe te gaan, maar die
geheim is om altyd die teenstanders se swakplekke aan te val. Daarvoor het jy visie nodig
om die geleenthede raak te sien. Visie, goeie besluitneming om die regte strategie te kies, en
afwisseling in benadering en aanvalshoek sal jou ook ver bring in die spel van die lewe.
Rugby is ’n unieke sport in die sin dat jy verplig is om agtertoe aan te gee in die proses om
vorentoe te gaan. Soms is dit in die lewe ook nodig om ’n tree terug te gee, voordat jy weer
vorentoe gaan. Die tree terug help jou net om weer perspektief te kry, die groter prentjie raak
te sien, jou opsies te oorweeg en op die regte plek aan te val.

Die tweede beginsel is kontinuïteit. Dit beteken jy hou die bal so lank moontlik in spel (verkieslik
totdat jou span punte aanteken), deur middel van hanterings- en kontakvaardighede. Die
baldraer sal poog om die bal op die regte oomblik aan ’n spanmaat in ’n beter posisie te
gee. Soms is daar nie ’n geskikte ondersteuner naby nie en is dit nodig om kontak te maak,
maar dis kritiek belangrik om die bal in kontak te behou en beskikbaar te stel wanneer ’n
ondersteunende speler opdaag en sodoende die spel lewendig hou. Hoe vinniger jy die bal
kan hersirkuleer, hoe beter die kans om wanorde in die verdediging te skep.
Beginsel drie is ondersteuning. Spelers in sommige posisies hanteer die bal in ’n wedstryd
net vir enkele sekondes (tussen vyf en tien keer per wedstryd vir een tot drie sekondes per
geleentheid). As jy die baldraer beskou as die hoofrolspeler, is almal eintlik vir die grootste deel
van die wedstryd byspelers. ’n Waardevolle speler sorg dat hy in ’n posisie kom waar hy kan
ondersteun, soms om die bal te ontvang en soms om skoon te maak of om vorentoe te dryf
om momentum te behou. Ondersteunende spelers vang nie altyd die oog nie, maar maak die
verskil.
Druk is die vierde beginsel. Volgehoue druk op aanval en verdediging ontneem die opposisie
van tyd en ruimte en dwing hulle tot foute. Terselfdertyd skep dit vir jou geleenthede om
punte aan te teken. Jy kan druk toepas ten opsigte van veldposisie en in al die verskillende
spelfasette, maar punte bly altyd die grootste vorm van druk.

Ds Pieter Oberholzer

*** Ds Pieter Oberholzer is ’n emeritus Weermagkapelaan wat veral in Weermagrugby diep
spore getrap het.