Toe ons in Suid-Afrika in 1994 ons eerste algemene verkiesing vir al die burgers van die land
gehou het, het die grusame volksmoord in Rwanda plaasgevind. Tussen April en Junie 1994 is
ongeveer 1 miljoen mense uit Rwanda se bevolking van net meer as 7 miljoen wreed vermoor.
Soos met Suid-Afrika se nuwe grondwetlike bestel, het Rwanda se volksmoord ’n radikale
omwenteling teweeggebring.

Rwanda se inwoners praat almal dieselfde taal, Kinyarwanda, terwyl Frans en toenemend Engels
die ander amptelike tale is. Daar is drie subgroepe: die Twa, die Hutu’s en die Tutsi’s. Die oorgrote
deel van die bevolking is vandag Christene, met ongeveer 44% wat aan die Rooms-Katolieke Kerk
behoort, 38% aan Protestantse kerke (waaronder die Presbiteriaanse Kerk sterk staan), en 12% aan
die Sewendedagadventiste.

In die 19de eeu was daar ’n Tutsi-koninkryk in die gebied, en vandat Duitsland (in 1884) en België
(sedert 1916) Rwanda as kolonie beset het, het hulle aan Tutsi’s voorkeur gegee in die regering van
die land. Die Belgiese owerheid het vanaf die 1930’s elke burger se stand (Twa, Hutu of Tutsi) in hul
identiteitsdokumente aangedui, en dit het gelei tot ’n verharding van ekonomiese klas en groepstatus.
Na die Tweede Wêreldoorlog het spanning in die land toegeneem, asook ’n drang na onafhanklikheid.
In 1959 het dit tot uitbarsting gekom in geweld van Hutu’s teenoor Tutsi’s, en ongeveer 100 000 Tutsi’s
het na buurlande gevlug. Onafhanklikheid het na ’n referendum in 1962 gevolg, en in 1973 het Juvénal
Habyarimana met ’n staatsgreep aan bewind gekom en Hutu’s in beheer geplaas.

Vanaf 1990 het die Tutsi-bannelinge onder leiding van die Rwanda Patriotic Front (RPF) die noorde van
Rwanda vanuit Uganda begin inval, wat Habyarimana gedwing het om ’n magsdelingsooreenkoms met
die opposisie aan te gaan. Toe Habyarimana se vliegtuig egter op 6 April 1994 naby die hoofstad, Kigali,
se lughawe afgeskiet is, was dit die sneller vir ’n volskaalse volksmoord. Binne die bestek van 100 dae
het Hutu’s ongeveer 1 miljoen Tutsi’s vermoor, totdat die RPF militêr beheer geneem het oor die land.
Die volksmoord was die gevolg van klasseverskille in ’n andersins homogene gemeenskap. Dit het die
mense van Rwanda daarna laat afsien van die onderskeid tussen Tutsi’s (die welvarende klas wat onder
meer beeste besit het) en Hutu’s (die arm klas wat nie eiendom besit het nie).

Al die kerke in Rwanda het na die volksmoord erken dat hulle dikwels aandadig was aan die menseramp.
Daar is moeite gedoen met ’n versoeningsproses waarin sowel slagoffers as aandadiges hul lyding met
mekaar kon deel, en waarin aandadiges en slagoffers saam begin het om nuwe gemeenskapstrukture
te vestig.

Vandag is die gemeenskap vreedsaam en vriendelik. Tydens ons besoek vir die byeenkoms van die
Afrika Gemeenskap van Gereformeerde Kerke (AGGK) het ons te alle tye veilig gevoel, en slegs by
enkele geleenthede militêre voertuie met gewapende soldate gesien. Korrupsie word glad nie in Rwanda
geduld nie, soos ons self ervaar het met ’n besoek aan ’n museum. Pogings van mense in ons groep
om oor die toegangsgeld te onderhandel, is vriendelik maar ferm afgewys. Daar is oral tekens van
ontwikkeling: Paaie en groot geboue word opgerig. Die land is duidelik op ’n stygende kurwe.
Maar die mees blywende ervaring was die merkwaardige onderlinge vrede tussen mense. Hier is binne
een geslag diepgaande versoening bewerkstellig. Ek kon nie help nie om te wonder waarom ons in
die ooreenstemmende tydperk in Suid-Afrika nie dieselfde mate van harmonie onder ons mense kon
bewerkstellig nie. Wat is die kerke se roeping?

Dr Wouter van Wyk