Gedurende my bediening het die Kerk rondom 1980 ’n bloeitydperk beleef. Ons kerke
was feitlik elke Sondag vol. Lidmate het dit noodsaaklik geag om Sondae eredienste
by te woon in die Kerk waar hulle belydenis van geloof gedoen het en waarin hul ouers
en voorgeslagte was. Tans is dit geheel en al anders.
Baie redes kan opgenoem word waarom ons lidmaattal drasties afgeneem het en ons kerke
Sondae feitlik leeg is. Talle lidmate beskou lidmaatskap en betrokkenheid by die Kerk waarin
hulle gebore is nie meer as vanselfsprekend en noodsaaklik nie. Hulle verlang dinamiese
ontmoetingsgeleenthede met God – eredienste wat met prediking, gebede, liedere en die totale
inkleding vir hulle sin maak, hulle aanspreek, vir hulle ’n boodskap bied vir hul lewensituasie,
en aangebied word op ’n wyse wat hulle deurlopend betrokke maak. Verstarde eredienste
waar die prediking weekliks vir hulle geen boodskap bied nie, word as sielloos ervaar. Die
kinders is onbetrokke in die erediens omdat hulle feitlik niks verstaan nie, en daar word op
geen manier op hul vlak met hulle gekommunikeer nie. Lidmate luister nie meer na wetlesing
en geloofsbelydenis met presies dieselfde woorde nie. As elke Sondag liedere opgegee word
wat moeilik singbaar is, sing hulle nie meer saam nie. As slegs die orrel elke Sondag gebruik
word vir die begeleiding van al die liedere, word dit vir hulle eentonig. As die inkleding en
die verloop van elke erediens week na week presies dieselfde is en nie hul lewensituasie
weerspieël nie, raak hulle al hoe meer onbetrokke en bly naderhand heeltemal weg.
Gedurende April het ek in twee Hervormde gemeentes eredienste bygewoon wat vir my
hoop gegee het vir ons Kerk se toekoms. Dit was eredienste in ou woongebiede van ons
land, maar in albei gevalle was die kerk feitlik vol van oud en jonk. Dit was eredienste in Laer
Suidkus, waar Jacques Pieterse predikant is, en Witfontein, waar Janine Bevolo-Manders
aan die woord was. Vele redes kan opgenoem word waarom lidmate hul eredienste in groot
getalle bywoon en talle ander gemeentes van ons Kerk feitlik leeg is op Sondae. Hulle doen
niks snaaks nie. Hulle pas net die Kerk se besluite toe met betrekking tot die erediens, soos
verwoord in ons huidige Diensboek van 2008, en hulle bly nie soos baie predikante steeds
vaskleef aan diensordes van 1960 nie. In albei gevalle het Jesus Christus in die middelpunt
van die prediking gestaan en het hulle ’n boodskap vir oud en jonk gehad. Die wetlesing en
geloofsbelydenis was ingeweef in die liedere en die preek. Die liedere was Psalms, Gesange
en Flam-liedere. Behalwe die orrel, is ook ander instrumente gebruik vir die begeleiding. Die
inkleding en aanbieding is gedoen met sinvolle benutting van elektroniese media. Mense
het jou by die deur gegroet en welkom geheet. Die hele atmosfeer was so dat jy dadelik tuis
gevoel het. Jy het gevoel: God is hier teenwoordig (hier is engele), mense gee vir mekaar
om, en mense verstaan mekaar se werklikhede.
Daar is tans soveel hulpbronne wat ons kan benut dat dit nie nodig is om te stagneer nie. Dit
het ek veral besef tydens my huidige bediening in Zambië. Hier is nie kerkgeboue, orrels of
klaviere nie, ook nie mense wat kan voorsing nie. Die enigste wat jou kan help, is elektroniese
media. Groot was my verbasing toe ek ontdek hoeveel gewyde sang van kore, groepe en
individue daar op CD’s is wat in die erediens met groot vrug naas die orrel gebruik kan word.
Baie van die musiek is in ’n genre wat mense vandag aanspreek.

Prof Bieks Beukes, emeritus