EKSODUS

Bron –Die  Bybel in Praktyk

OORSIG  

God het Hom in die woestyn aan Moses bekend gestel as Jahwe(die Here) (3:14; vgl. 6:1), wat geïnteresseerd is in die nood van mense. Hy stuur Moses terug na Egipte om die nakomelinge van Jakob uit te lei uit slawerny. Dit is een van die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die groepie slawe. Met die uittog bewys God Hom as ‘n God van die geskiedenis. Die uittoggeskiedenis sou weerklank vind dwarsdeur die Ou Testament. Die profeet Jesaja sien die terugkeer uit die ballingskap selfs as ‘n “nuwe uittog” (Jes. 43:16-17; 48:21; 52:9-10). Op die tog bewerk die Here wonderwerke deur hulle droogvoets deur die Rietsee te laat trek en hulle van kos en water te voorsien in die woestyn. Om die wonder van die uittog te herdenk, kry Israel opdrag om elke jaar paasfees te vier. Dit was ‘n bekende gebruik van daardie tyd. Elke jaar het die veeboere in die lente na beter weivelde getrek. Voor hulle weggetrek het, het hulle ‘n lam geslag en bloed aan die tentpale gesmeer om die bose geeste van die lammeroes af weg te hou. Met die pasga word aan die heidense fees ‘n nuwe betekenis gegee: Israel sou terugdink aan hulle bevryding uit Egipte. Die bloed van die paaslam was nou die teken dat die doodsengel tydens die laaste plaag by die huise van Israel verbygegaan het. Die wonderkarakter van die uittog het selfs in die Nuwe Testament byl voortleef. In die Nuwe Testament is die grootste wonder die opstanding van Jesus uit die dood. Deur sy dood en opstanding is ‘n nuwe lewe (die ewige lewe) vir ons moontlik gemaak. Daarom sien die Nuwe Testament Jesus as die paaslam (1 Kor. 5:7): soos wat die bloed van die paaslam die doodsengel van Israel weggehou het, so hou Jesus se dood ons veilig teen die dood; dit bring vir ons nuwe lewe, die nuwe lewe van die opstanding (vgl. 2 Kor. 5:17). In die nagmaal herdenk ons Christus se dood vir ons.

Ons moet egter nie die verlossing uit Egipte slegs vergeestelik nie. Mense sê vandag dat ons dit in die eerste plek moet sien as ‘n letterlike bevryding uit onderdrukking. Dit is ‘n verskraling van die evangelie van verlossing as die verlossing alleen maar op die lewe na die dood betrekking het en niks te sê het vir ons lewe van elke dag nie. Mense sê God is aan die kant van die verdrukte. God neem die saak van die verdrukte op en straf die verdrukkers. Volgens hierdie standpunt mag ‘n mens selfs die wapen opneem om die verdruktes te bery. Daar is twee kante aan hierdie saak verbonde. Aan die een kant moet ons die evangelie hier en nou beleef. Die evangelie het immers te make met die loon wat mense ontvang, met hulle menswaardigheid, met reg en billikheid en met die politiek. Sover het die bevrydingsteoloë ‘n positiewe punt. Aand die ander kant is dit egter gewaagd om die verhaal van die bevryding uit Egipte slegs as ‘n soort model vir vandag se politieke optrede te gebruik. In die uittog was God immers op ‘n besondere manier aan die werk. Hy was besig om met wonders en tekens aan die wêreld te toon dat Hy die enigste ware God is. Die vraag is: gaan dit vir die bevrydingsteologie ook om hierdie boodskap? Of gaan dit om wie die volgende maghebbers sal wees?

Om sy volk te bly herinner aan die doel waarvoor Hy hulle verlos het, gee God aan hulle riglyne waarvolgens hulle moet lewe, naamlik die tien gebooie. Dit is die voorwaardes wat Hy stel aan die mense wat met Hom ‘n verbond wil sluit. Verlossing uit slawerny en sonde gaan saam met ‘n lewe van toewyding en lofprysing aan die God van die verlossing. Dit is die boodskap van die boek Eksodus.

 

BELANGRIKE GEGEWENS

DOEL:

Om die gebeurtenisse rondom Israel se verlossing uit Egipte en hulle ontwikkeling tot ‘n volk op skrif te stel.

 

SKRYWER:

Geleerdes is dit eens dat Moses gedeeltes kon geskryf het, maar die boek is die eindproduk van verskillende verhale wat deur ‘n eindredakteur versorg is.

 

GEADRESSEERDES:

Israelitiese ouers het oor eeue die uittogverhale aan hulle kinders vertel, maar tydens die ballingskap het hulle behoeftes aan troos gehad en die verhale kon hiervoor op skrif gestel gewees het.

 

ONTSTAANSTYD:

Die boek bevat materiaal uit die tyd van die uittog uit Egipte ongeveer

1 250 vC. Dit het waarskynlik sy finale beslag tydens die ballingskap gekry.

 

AGTERGROND:

Jakob en sy kinders het hulle ongeveer in 1 650 vC in Egipte gevestig. Die verdrukking het waarskynlik onder die bewind van farao Rameses II (1 292 – 1 225 vC) plaasgevind. Onder sy seun Mernefta het die uittog plaasgevind.

 

KERNVERSE:

Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur (Eks 3:14). So sê die Here: “Laat my volk gaan…” (8:1).

 

BELANGRIKE KARAKTERS:

Moses, Mirjam, die farao, die farao se dogter, Jetro, Aäron, Josua en Besaleël.

 

KENMERKENDE EIENSKAPPE:

Eksodus is ‘n godsdienstige reisverhaal. Ons kry ook ‘n loflied, wetsvoorskrifte en geslagsregisters.

 

HOOFTEMAS EN VERDUIDELIKING EN BETEKENIS VANDAG

GOD

Die uittog is ‘n stryd tussen God en die gode van Egipte. Die Egiptenaars het hulle farao’s beskou as seuns van die god Ra, die songod.

Die hele bevryding gaan eerder om God as om die reddingsgebeurtenisse self. Jahwe(die Here) laat Hom ken as ‘n God wat oor alles en almal heerskappy voer: oor konings en krygers, oor wind en water, son en siektes en oor die lewe self. Die uittog is ‘n aanskouingsles oor wie die ware God is en hoedanig sy mag is.

 

Die mens

Die mens is ‘n ontevrede en opstandige wese wat pas na sy verlossing murmureer oor allerlei probleme in die natuur (15:22-17:7) en sy eie afgod maak (die goue kalf, hfst. 32). Dit is ‘n voortsetting van die geskiedenis van Genesis 1-11.

Al is die mens nie in staat om God se heilsdade met gehoorsaamheid, getrouheid en toewyding te beantwoord nie, red God hom uit genade. Vir sy fisieke en geestelike verlossing antwoord hy wel met lof aan God (hfst. 15).

 

Paasfees

Die paasfees was ‘n heidense fees wat die veeboere met die aanbreek van die lente gevier het.

Aan hierdie fees is ‘n nuwe betekenis gegee: paasfees sou vir Israel ‘n fees wees waartydens hulle kon terugdink aan hulle bevryding uit Egipte (hfst. 12). Die bloed van die paaslam het die doodsengel verdryf. Vandag herdenk ons met paasfees die dood en opstanding van Jesus Christus wat vir ons die ewige lewe gee.

 

Die verbond

By die berg Sinai sluit God met sy volk ‘n verbond (hfst. 19-24). Die verbond werk soos die verdrae tussen die verskillende volke in die ou Nabye-Ooste in daardie dae.

Die verbond is gebou op die beloftes wat God aan Abraham gemaak het. Dit lê op Israel sekere verpligtings wat in die toekoms hulle optrede teenoor God en mens sal bepaal.

 

Die wet

Die tien gebooie is die voorwaardes van die verbond en is veranker in die verlossingsgebeure van die uittog (20:2).

Omdat God Israel verlos het, daarom kan Hy in sy wet eise aan die volk stel. Dit is dus nie ‘n saak van dwang nie, maar stel vir Israel die riglyne waarvolgens hulle uit dankbaarheid vir die verlossing moet lewe.

 

God se woning

God se teenwoordigheid maak Israel tot volk van God. die tabernakel (hfst. 25-40), die draagbare heiligdom, is ‘n simbool van God se teenwoordigheid onder sy volk (40:34-38).

Die Heilige Gees woon vandag onder die gemeente van Jesus Christus.

Eksodus – oorsig