LEVITIKUS

Bron –Die  Bybel in Praktyk

OORSIG  

Die kernsaak in Levitikus is die verhouding tussen God en mens. As daardie verhouding nie reg is nie, het die mens se lewe geen inhoud nie. Die verhouding met die Here is belangrik vir die mens se hele bestaan. Maar dit vra jou ook om met jou hele lewe aan God toegewy te wees. In Levitikus leer God sy volk wat dit beteken om voortdurend in verhouding tot Hom te lewe. Nadat die volk van Israel uit Egipte weggetrek het, het hulle twee jaar lank aan die voet van die berg Horeb gebly om na die Here te luister (Eks 19 – Num 10). Dit was ‘n tyd waarin hulle hulle kon voorberei en leer hoe om vir die Here te lewe. God het hulle verlos uit Egipte. Hulle kan nou op daardie fondament voortbou en leer oor die reiniging, aanbidding en diens wat God van hulle vra. Die sleutelbegrip in Levitikus is die heiligheid van God: “Wees heilig, want Ek, die Here julle God is heilig” (19:2). Daarmee word ‘n unieke verhouding tussen God en sy volk bedoel. Hoe kan onheilige mense in gemeenskap met ‘n heilige God lewe? Die antwoord lê daarin dat daar eers vir die probleem van sonde ‘n oplossing gekry moet word. Die eerste hoofstukke in Levitikus word gewy aan die opdragte wat nagekom moet word wanneer daar geoffer word. Deur die offers was dit moontlik om vir die sonde te betaal en met God versoen te word. Wat ook al as offers gebring is, die offers moes volmaak wees. Geen offer kon ‘n letsel of tekortkoming hê nie. Met die beste wat hulle gehad het, kon Israel na die heiligdom toe kom en God daar ontmoet. Die offer neem dan alle sondeskuld weg wat tussen God en mens kon staan en maak dit moontlik dat die gelowige met die Here versoen kon word.

Die offers het die deur na God vir die Israeliete oopgemaak. Die offers het ook die verhouding met die Here op tasbare en sigbare wyse bevestig. Deur die diens van Aäron en sy seuns het die volk die Here gereeld by sy heiligdom ontmoet en met Hom gemeenskap gehad. Die verhouding met die Here het egter meer behels as net die ontmoetings van tyd tot tyd by die tent van ontmoeting. Sy volk moet Hom met hulle hele lewe dien. Ons lees van wette wat met reinheid te doen het (11-15), en reëls wat met die gesinslewe, sedelike gedrag, alledaagse verhoudings en elke dag se lewe in die wêreld te doen het (18-20). Al die opdragte het verband gehou met die mens se hele lewe voor God. Die beginsels wat die grondslag van hierdie wette was, geld vandag nog. Die verhouding met God het ook ‘n horisontale aspek, want die Here word verheerlik deur die wyse waarop ons lewens die van ander mense raak.

Dit kom ook na vore in die voorskrifte oor bepaalde tye en geleenthede. Levitikus laat ook die klem op feesviering val, want daar word opdragte met betrekking tot die verskillende feeste gegee. Daar was gereelde feesdae waartydens die volk hulle opnuut aan die Here kon toewy en kon dink aan alles wat Hy vir hulle gedoen het. Hulle kon Hom loof en dank, en aan sy goedheid dink.

Deur die offer van Jesus Christus aan die kruis is al ons skuld vir eens en vir altyd betaal. Ons is nou met God versoen. Hy gee aan ons selfs die voorreg om sy kinders te wees. Wat Levitikus ons leer, is dat ons as sy kinders nie net volkome in sy Vaderhand is nie, maar ook volkome aan die Here toegewy moet lewe. Met ons hele lewe, met alles wat ons het of dink of doen moet ons die Here verheerlik. In Jesus Christus is ons hele lewe uit God, deur God en tot God die Here gerig. Dit is die waarheid waarin die Heilige Gees ons leer om te lewe.

 

BELANGRIKE GEGEWENS

DOEL:

‘n Handboek hoe die volk God moet dien. Voorskrifte word gegee vir die priesterlike take en pligte by die heiligdom en die offers wat die volk moet bring en die feesdae van die Here wat hulle moet vier.

 

SKRYWER:

Veral die Levitiese priesters het belang gehad by hierdie voorskrifte. Die materiaal is in hulle geledere versamel en op skrif gestel.

 

GEADRESSEERDES:

Die volk van Israel en hulle priesters.

 

ONTSTAANSTYD:

Die meeste van die voorskrifte is deur Moses by die berg Sinai gegee. Daar is egter van die reëls wat van toepassing is op latere omstandighede wat eers bygevoeg is nadat Israel in Kanaän gevestig was, selfs eers na die ballingskap.

 

PLASING:

Die toneel speel af aan die voet van die berg Horeb. Die Here leer die Israeliete hoe om heilig te lewe in die land wat Hy aan hulle gaan gee.

 

KERNVERSE:

“Wees heilig, want Ek, die Here, julle God is heilig” (19:2). “Julle mag vir julle geen gode maak nie… Julle moet my sabbattte vier en eerbied hê vir my heiligdom. Ek is die Here” (26:1-2). “Die voorafgaande is die voorskrifte, bepalings en wette wat die Here deur Moses op Sinaiberg gegee het oor die verhouding tussen die Here en die Israeliete” (26:46).

 

BELANGRIKE KARAKTERS:

Moses, Aäron en die volk.

 

KENMERKENDE EIENSKAPPE:

In die boek word daar 152 keer na heiligheid verwys – dit is meer as in enige ander boek van die Bybel.

 

HOOFTEMAS EN VERDUIDELIKING EN BETEKENIS VANDAG

Offer

Hier word vyf soorte offers beskryf: die een groep sluit offers van dankbaarheid, lof en aanbidding in, en die ander groep offers van versoening en die wegneem van skuld en sonde.

Die volk het geoffer om hulle afhanklikheid en verbondenheid aan God te bevestig en ook om vergifnis van sonde te verkry. Ons leer daardeur hoe belangrik dit is om deur die Here aanvaar te word en hoe die sonde dit verhinder. In die offer is dit duidelik dat ons nie vanself vergewe word nie. Volgens God se stelsel word ‘n lewe vir ‘n lewe geëis. In die Ou Testamentiese tyd is ‘n dier geoffer sodat ‘n mens gered kon word. Dit was egter net ‘n tydgebonde maatreël, want Jesus het met sy dood vir ewig die prys betaal vir alle sonde.

 

Toewyding aan die Here

Daar was sewe godsdienstige feeste. Ons leer uit hierdie feeste dat God van ons toewyding vra, ook in die alledaagse lewe.

Die Here se wette vir aanbidding het ‘n geordende, gereelde stelsel vir diens aan en gemeenskap met Hom daargestel. Die wette het voorsiening gemaak vir feestelikheid en danksegging, maar ook vir verering en toewyding. Ons aanbidding moet dieselfde elemente bevat.

 

Gesondheid

Daar was ook wette wat gegeld het vir die hantering van voedsel, siektes en seksuele aangeleenthede. Hoewel die wette met fisieke dinge te doen gehad het, was hulle ingesluit in ‘n omvattende lewensverhouding met God. Israel moes anders wees as al die omliggende nasies. Hulle moes hulle geestelike en fisieke geluk in volkome toewyding aan die Here vind.

Ons moet moreel en geestelik aan die Here toegewy wees. Die beginsels vir ‘n sinvolle lewe is vandag nog net so belangrik as in die tyd van Moses. Ons moet die Here dien met elke aspek van ons lewe – daarin vind ons lewe vervulling en geluk.

 

Heiligheid

Heilig beteken “afgesonder” of “toegewy”. Die Here het sy volk uit Egipte laat padgee – nou moes Hy Egipte uit die harte van die mense laat padgee. Hy het hulle geleer om die heidense volke te vermy en sober en toegewy aan Hom te leef.

Ons moet ons lewens aan God wy. Hy verwag gehoorsaamheid – nie net wat die dinge wat ons doen betref nie, maar ook so ver dit ons motiewe aangaan. Ons volg nie meer vandag al die gebruike van Israel nie, maar ons moet dieselfde toewyding hê en net so bereid wees om die Here met ons hele wese te dien.

 

Leviete

Die Leviete en priesters het die mense geleer hoe om God te dien. Hulle was die leraars van daardie tyd en het gesorg dat die sedelike, seremoniële en burgerlike wette uitgevoer word. Hulle was ook verantwoordelik vir die gesondheid, regspraak en die welsyn van die mense.

Die Leviete was diensknegte wat vir Israel die weg na die Here gewys het. Elke gelowige moet ook ‘n priester vir die Here wees wat so in sy Naam leef dat ander daardeur vir God gewen kan word.

Levitikus – oorsig