Matteus

(Kyk gerus hierdie video wat saam gaan met die studie van Matteus)

https://www.youtube.com/watch?v=o6WXIpjHX5M

Bron –Die  Bybel in Praktyk

OORSIG 

Wanneer ons die Evangelies lees, moet ons besef dat daar nie joernaliste was wat saam met Jesus rondbeweeg het en al sy woorde presies opgeteken het nie. Jesus het inderdaad in Nasaret soos enige ander Joodse seuntjie van sy tyd grootgeword. Uiterlik was daar geen rede om te aanvaar Hy is die Messias nie. Ons weet dat selfs sy dissipels Hom nie heeltemal verstaan het nie. Dit was eers na sy dood en opstanding en na die uitstorting van die Heilige Gees dat hulle werklik begin besef het dat Hy die Messias was. Vanuit hierdie nuwe geloof het hulle toe teruggekyk na wat Hy gesê en gedoen het en vanuit hierdie geloofsperspektief het Hy vir hulle nuwe betekenis gekry.

Die evangeliste skryf dus oor Jesus as gelowiges wat ander wil oortuig dat hierdie Jesus van Nasaret die beloofde Messias is, wat God nou in Jesus van Nasaret gestalte gegee het. Elkeen van die vier evangeliste het op sy eie manier oor Jesus geskryf en elkeen het in sy verhaal iets van sy eie geloof in Jesus tot uitdrukking gebring. Só word die leser se indruk van Jesus verryk en verbreed.

Nadat Matteus oor Jesus se geboorte berig het (hft 1-2), slaan hy die res van sy jeugjare oor en vermeld hoe Jesus in die openbaar begin werk nadat Hy deur Johannes gedoop (3:17) en in die woestyn deur die Satan versoek is (4:1-11). Hy het sy bediening begin met die roeping van sy eerste dissipels en die bergrede (hft 5-7). Matteus vertel ook van Jesus se wondertekens, van die manier waarop Hy siekes gesond gemaak, mense van bose geeste verlos, en selfs mense uit die dood laat opstaan het.

Die kern van Jesus se prediking was die koninkryk van die hemel. Hy het egter sy dissipels ook voorberei dat Hy sou sterf en uit die dood sou opstaan (16:21). Teen die einde van sy bediening het Hy Jerusalem triomfantlik binnegegaan (21:1-11). Die teenkanting teen Hom het egter al hoe feller geword, en Hy het besef dat sy dood op hande was. Hy het ook vir sy dissipels gesê hoe hulle moes leef tot op die tyd van sy wederkoms (25:31-46).

Matteus laat die klem in sy laaste hoofstukke (26-28) op Jesus se laaste dae op aarde val – op die paasmaaltyd, sy gebed in Getsemane, Judas se verraad, die feit dat die dissipels gevlug het, op Petrus se verloëning, die verhoor voor Kajafas en Pilatus, Jesus se laaste woorde aan die kruis en die feit dat Hy in ‘n geleende graf begrawe is.

Die verhaal eindig egter nie daar nie – want die Messias het uit die dood opgestaan. Hy het die dood oorwin en vir sy volgelinge die opdrag gegee om sy werk voort te sit en van al die nasies dissipels te maak.

BELANGRIKE GEGEWENS

DOEL:

Om te bewys dat Jesus die Messias, die ewige Koning is.

SKRYWER:

Matteus (Levi).

GEADRESSEERDES:

Hoofsaaklik die Jode.

ONTSTAANSDATUM:

Moontlik ná 70 nC.

 

PLASING:

Indien die skrywer die apostel Matteus is, dan was hy vroeër ‘n tollenaar (Joodse belastingagent). Die Evangelie verbind die Ou en Nuwe Testamente omdat dit soveel klem lê op die vervulling van die profesieë.

KERNVERSE:

“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry” (5:17).

BELANGRIKE KARAKTERS:

Jesus, Maria, Josef, Johannes die Doper, die dissipels, die geestelike leiers, Kajafas, Pilatus, Maria Magdalena.

BELANGRIKE PLEKKE:

Betlehem, Jerusalem, Kapernaum, Galilea, Judea.

VERDERE OPMERKINGS:

Matteus gebruik dikwels Messiaanse taal, bv. “Seun van Dawid” en Ou Testamentiese verwysings (53 aanhalings en 76 ander verwysings). Die Evangelie is nie in die vorm van ‘n chronologiese verhaal nie, maar eerder ‘n gesistematiseerde weergawe van Jesus se bediening waarin Hy as Messias voorgestel word.

HOOFTEMAS EN VERDUIDELIKING EN BETEKENIS VANDAG

Jesus Christus, die Koning

Jesus word as die Koning van alle konings bekend gestel. Matteus gee uitdrukking hieraan die manier waarop hy skryf oor Jesus se geboorte, sy lewe en wonderwerke, die dinge wat Hy geleer het en sy oorwinning oor die dood.

Jesus is uniek en kan nie met enige ander mens of mag vergelyk word nie. Hierdie unieke Koning is deur sy onderdane verwerp en verag, maar Hy is deur God gebruik om mense weer in die regte verhouding met Hom as Opperheerser te stel. Ons moet Jesus se regmatige plek as Koning oor ons lewens erken.

Die Messias

Jesus word deur Matteus geteken as die Messias, die Een op wie die Jode gewag het, die Een wat hulle (so het hulle gedink) van Romeinse oorheersing sou bevry. Hulle het Hom nie herken nie, omdat sy koningskap nie aan hulle verwagting voldoen het nie. God het sy gesalfde Verlosser gestuur om almal met Hom te versoen en in ‘n nuwe verhouding te stel.

Jesus het aan die mense kom verduidelik wie God eintlik is, wat Hy vir die mensdom beteken, en ook wat Hy van die mense verwag. Om Hom te erken as die Agent van God en in ‘n persoonlike verhouding met Hom te lewe, is die heel belangrikste ding wat daar is.

Koninkryk van God

Die hart van Jesus se prediking was die koninkryk van God, wat beklemtoon het dat God regeer. Hierdie koninkryk is reeds in Jesus Christus teenwoordig maar sal volkome werklikheid word.

Wie in Jesus Christus as Verlosser glo, betree reeds die koninkryk en moet leef soos onderdane van hierdie koninkryk.

Dinge wat Hy geleer het

Jesus het die mense geleer deur vir hulle te preek en gelykenisse te vertel. Só het Hy vir hulle geleer wat ware geloof beteken en hoe mense moet leef wat in die regte verhouding met God is.

Alles wat ons doen moet in ooreenstemming wees met die eise wat die koninkryk van God aan ons stel. Dit moet die norm vir ons daaglikse lewe wees.