Lydenstyd duur veertig dae. Dit loop oor sewe weke wat ses sogenaamde Lydensondae insluit. Die dieptepunt is op Goeie Vrydag.

cross-of-christ-0101

Alhoewel elke Sondag in die teken van die opstanding staan, loop ons in die tyd die lydenspad saam met Jesus, asof Hy nog nie opgestaan het nie. Daarmee ervaar ons iets van die lyding wat Hy deurgemaak het. Dit is ‘n ingetoë tyd wat in baie tradisies met vas en versobering gepaardgaan.

Die liturgiese kleur is wynrooi/persrooi. Dit dui op die lyding van Jesus. Die pers van die Adventstyd (simbool van inkeer en koningskap) vermeng met rooi (bloed),  om persrooi te vorm. Die verband met Advent dui op die verkondiging van ‘n unieke Koning. Hy regeer deur te ly en te sterf, en deur haat met liefde te oorwin.

Die liedere vir die Lydenstyd is van die treffendste geloofsliedere wat ons het. Omdat dit ‘n ingetoë tyd is en ‘n tyd van boetedoening, word die lofsang (Gloria) en die Halleluja in die tyd nie gesing nie. Die lofsang verval of het ‘n meer ingetoë karakter: vreugde te midde van lyding.

Alle uitbundigheid in die erediens word in die tyd vermy. Sogenaamde Paassangdienste gedurende die lydenstyd, waar die tematiek van lyding en die opstanding vermeng word, of waar meestal eerder klem op die opstanding geleë word, is nie gepas nie. So ‘n viering hoort op Paassondag, die dag van die opstanding, en die Paastyd daarna – soos die benaming Paassangdiens trouens aandui.

Die laaste Sondag voor Goeie Vrydag staan as Palmsondag bekend. Daarmee gaan ons die Groot Lydensweek of die sogenaamde Stil Week binne.