Sondag, 15 Maart 2015

Skriflesing:                     2 Korintiërs 5:16-21

Tema:                             Laetare – Wees bly.

Deur – ds. Jaco van Sittert

PREEK

Geliefde broers en susters,

Eerste Lydensondag tot derde Lydensondag.

Hierdie Sondag, die Vierde Lydensondag, word tradisioneel in die kerk, Laetare genoem, wat “wees bly” beteken.

Om met integriteit te lewe beteken om eerlik voor God te lewe, om heel te wees. God se kinders lewe as bevrydes. Die sonde het geen houvas meer op ons nie, dit is reeds deur Christus aan die kruis oorwin. Dit beteken nie dat ons sonder sonde is nie. Dit beteken eerder dat ons nie hoef bang te wees of te huiwer om voor God te bely wie ons is nie. Ons is deur Christus se lyding met God versoen.

 

En hier val ek myself in die rede:

Dis belangrik dat ons versoening reg verstaan en ook die omgang daarvan sal besef. Wat wil die woord ‘versoen’ vir ons sê?

‘Versoen’ beteken – daar is vrede gemaak of ’n vriendskap is herstel.

In ons geloof beteken dit dan dat ons vriendskap met God was gebreek en dit was nodig dat hierdie vriendskap versoen, herstel, moes word.

 

Maar vir iets om versoen te word, moes dit eers gebreek gewees het –

 

Wat het veroorsaak dat die mens se vriendskap met God gebreek is?

En die antwoord is – die mens het God verwerp. Dit was die sonde van Adam en Eva en ons kan hierdie verwerping raak sien onder die mense wat na Adam en Eva gekom het. Ons sien dit vandag ook, hoe mense God verwerp.

Die Psalmdigter verwoord dit so in Psalm 14:1-3:

Die dwaas dink daar is geen God nie. Dwase mense vernietig alles; wat hulle doen, is ’n gruwel vir die Here. Daar is nie een wat goed doen nie. 2 Van die hemel af kyk die Here die mense deur om te sien of daar één verstandige is, één wat na die wil van God vra. 3 Almal het afgedwaal, die laaste een het ontaard; daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie één nie.

 

In Romeine 1:25 Paulus

25 Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen.

 

En net ’n bietjie vroeër sê hy –

 

19 Wat ’n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring. 20 Van die skepping van die wêreld af kan ’n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ’n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, 21 omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister.

 

En soos die mense vir God verwerp, soos die mense God se vriendskap, Sy liefde verruil vir sy eie ego, verval die mens in sonde en word sonde die slawedrywer oor die mensdom.

 

En u en ek sien dit in ons land, in ons wêreld en ons voel dit baie keer aan ons bas. Waar liefde ontbreek, daar heers die sonde. God is liefde –

 

1 Johannes 4:7 – 9

7 Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. 8 Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9 Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.

 

En Jesus Christus het hierdie breek wat chaos bring, herstel deur die sonde van ons af weg te neem en ons met God te versoen.

Ons is nie sondeloos nie, maar ons het wakker geword deur te besef hoe ’n wêreld lyk waar daar nie liefde is nie, waar God nie is nie en hoe ’n wêreld lyk (deur Jesus se voorbeeld) waar daar wel liefde is!

 

Uitbou

Dis baie belangrik dat ons in hierdie Lydenstyd vir onsself ’n vraag vra. En die vraag is – Hoe lyk ’n gemeenskap wat in Christus versoen is?

Meer as dit – Hoe lyk ek (ek en julle) wat in Christus versoen is?

 

Vers 16

Ons wat ’n Christus glo hoor vanmôre by Paulus –

16 Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie.

Dit beteken – ons wat versoen is beoordeel nie meer soos vroeër Christus en enige iemand anders, uit selfsug, onopregtheid of vooroordeel nie. Ons kyk met Christus se oë na ander, veral diegene wat baie anders is as ons.

 

Vers 17

17 Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

 

Die 1983 vertaling van hierdie gedeelte lees – “iemand wat aan Christus behoort”, maar dit kan ook vertaal word met “iemand in Christus”.

Dus – iemand in Christus is ’n nuwe mens. En dit is wat dit moet wees. Die gewig in hierdie vers, lê daarin dat ons moet besef dat iets radikaal plaas gevind het toe ons versoen is. Ons het heeltemal tot insig gekom. Ons het heeltemal besef wat liefde werklik is en dit beweeg ons tot ’n nuwe mens.

 

Vers 18 en 19

En dan sê Paulus –

18 Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19 Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

Die woord wat met versoening vertaal word kan teruggevoer word tot die Hebreeuse woord wat ruilwaarde aandui.

Jesus het sy lewe geruil vir ons sin. Hy het Homself prysgegee sodat ons kan lewe. Hy het gedien en so versoening gebring en dit is juis wat Paulus ons wil wys, dat ons ook moet dien, sodat Christus se versoening in ons dade gesien kan word. Ons moet deur ons lewe getuienis wees van Christus se versoening, in die manier hoe ons diensbaar ons geloof uitleef.

 

Vers 20

20 Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!

Nes Paulus aandui dat hy ’n ambassadeur in Christus is, so moet ons ook ambassadeurs vir Christus wees.

 

Vers 21

21 Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

Wat dit wil sê is – God het in sy genade ’n ruil bewerk.

Die sonde word op Christus se rekening geplaas en die geregtigheid (vryspraak) is aan gelowiges, op grond van hul eenheid met Christus, op hul rekord gesit. Gelowiges word vrygespreek en is vrygekoop. Waar ons die ewige dood verdien, het ons die genade van God deur Christus ontvang. Ons ontvang vergifnis en is met God versoen.

 

Ten slote

In ’n neutedop –

Laetare – Wees bly.

Hierdie Vierde Lydensondag druk dit op ons harte dat ons bly kan wees. Ons kan vry lewe en dit beteken, vry van sonde.

Ons kan die waarde van liefde besef en dit uitgee, terwyl die dwase sonde behep te ongelowige mense dit nie kan sien nie.

8 Ons is nuwe mense wat hoor dat ons aan ander die versoening, die verlossing van sonde, die vrede wat ons met God het, moet gaan wys en aan hulle bekendstel deur liefdevol en genadig God se liefde na sondaar mense toe bring.

Amen