Skip to content Skip to footer

Wanneer jaloerse gedagtes indring

Geneem uit die boek van

Selwyn Hughes

Skep nuwe moed

Bybelse hulp vir swaarkrytye

Die woord ‘jaloesie’ word op twee verskillende maniere in die Skrif gebruik, en hierdie feit moet ons altyd in gedagte hou. Daar is goeie jaloesie en slegte jaloesie. God beskryf Homself by geleentheid as ‘jaloers’ (Eksodus 20:5), en Paulus sê aan die Korintiërs: ‘Ek waak oor julle met ‘n ywer wat van God kom’ (2 Korintiërs 11:2). Hierdie is uitdrukkings van ‘n goeie vorm van jaloesie – dit spreek van ‘n hartstog en ywer om die geliefde se onthalwe, en nie om eie belang nie.

Die woord ‘jaloesie’ word egter in die hedendaagse wêreld selde op hierdie wyse aangewend. Wanneer ons tydens ‘n normale gesprek na ‘jaloesie’ verwys, verwys ons gewoonlik nie na goeie jaloesie nie, maar na slegte jaloesie. Slegte jaloesie is die gevoel van kilheid en wrokkigheid wat ons ervaar wanneer mense met wie ons onsself vergelyk ten opsigte van idees, voorkoms of prestasies, spesiale erkenning of lof ontvang. Jaloesie word nie normaalweg gerig teen diegene wat ver bo ons verhewe is wat sukses betref nie; dit word gerig teenoor die mense in die sosiale kring waarin ons ons bevind, daardie mense wat ons of as ons gelyke, of as minderwaardig in vergelyking met ons beskou. ‘n Latynse spreuk stel dit so: ‘Die pottebakker is jaloers op die pottebakker, die smid op die smid.’ Jaloesie het sy oorsprong daarin dat ons verkeerdelik vergelykings met ander tref. ‘Dit is afguns gebore uit ‘n diepgewortelde liefde vir die eie-ek’, volgens een predikant.

Die gebruik om onsself met ander te vergelyk kan vinnig aanleiding gee tot sonde. Wanneer ons voel dat iemand nie so goed soos ons is nie, maak ons ons skuldig aan trots; wanneer ons voel dat iemand beter as ons is, kom ons in die versoeking om te insinueer dat hulle skynheilig is; as hulle meer suksesvol as ons is, verval ons dikwels in afguns.

Jaloesie kan hanteer word deur ons oë ferm op Jesus te rig en die drang om ons met ander ter vergelyk, te bevredig deur onsself met God alleen te vergelyk.

O God, vergewe my vir my verkeerde dade van vergelyking – dat ek myself met ander vergelyk terwyl ek myself eintlik met u Seun moet vergelyk. Gee dat ek so in Hom opgaan en so geborge in Hom voel dat ek met liefde na ander mense kan kyk, en nie met afguns nie. Ek bid in die Naam van Christus. Amen.

 

Skrifverse vir oordenking

1 Raad rakende die tref van die verkeerde vergelykings

2 Korintiërs 10: Ons waag dit natuurlik nie om ons op een lyn te stel of te vergelyk met sekere mense wat so ‘n danige dink van hulleself het nie. Hulle is dom: hulle meet hulleself aan hulle eie maatstaf en vergelyk hulleself met hulleself … Die man wat die proef deurstaan het, is nie die een wat homself prys nie, maar die een wat deur die Here geprys word. (vers 12, 18)

2 Voortdurende jaloesie – ‘n teken van onvolwassenheid en wêreldsheid

1 Korintiërs 3: Julle is nog wêreldse mense. Daar kom jaloesie en twis onder julle voor. Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie? (vers 3)

Liefde – die enigste antwoord op jaloesie

1 Korintiërs 13: Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. (vers 4)

4 Ons moet onsself gedurig met Christus vergelyk

Hebreërs 12: Laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. (vers 1-2)

5 Jaloesie tas die liggaam aan

Spreuke 14: ‘n Kalm gemoed hou die liggaam gesond; hartstog vreet ‘n mens op. (vers 30)

6 ‘n Besluit wat alle Christene moet neem

1 Petrus 2: Hou dan op met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery. (vers 1)

7 Jaloesie sterf in ‘n hart waarin Christus waarlik leef

1 Johannes 3: Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. (vers 16)

8 Rig jou oë slegs op die Here

Psalm 25: My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou. (vers 15)

Adres

1 Kerk Avenue, Ferndale, Randburg, 2194

Kontak Ons

NHK Randburg © 2025. All Rights Reserved.