Oorsig – Bybel in Praktyk

Baie gemeentes word te afhanklik van hulle predikant, pastoor of ander voltydse bedienaar. Solank daardie bedienaar teenwoordig is, gaan dit uitstekend, maar as hy sterf of elders gaan werk, stort alles in duie en die gemeente kwyn. Elke bedienaar het die verantwoordelikheid om hom/haar oorbodig te maak deur enersyds genoeg bekwame persone op te lei en toe te rus sodat die gemeente as liggaam van Christus selfonderhoudend is.

Paulus het nie toegelaat dat gemeentes hom in praktyk naderhand as fondament gebruik nie, maar duidelik gestel dat Jesus Christus die kerk se fondament is. Hy het besef dat hy nie vir altyd daar sou wees om die koers aan te dui, te versterk, te bemoedig, tereg te wys en. Te onderrig nie, en daarom het hy jong bedienaars opgelei om die leiding in die gemeentes te neem. Hy het hulle  aangemoedig om hulle lewens en prediking in alle opsigte op die Woord van God te bou (2 Timoteus 3:16-17) en ook op hulle beurt ander op te lei om die bediening voort te sit (2 Timoteus 2:2).

Titus, ‘n Griekse gelowige, het waarskynlik onder Paulus se bediening tot bekering gekom. Paulus het hom onderrig en opgelei, en in Jerusalem is hy voorgehou as ‘n lewende voorbeeld van Christus se werk onder die nie-Jode (Gal. 2:1-3). Hy was een van Paulus se getroue reisgenote. Hy het later sy verteenwoordiger geword (2 Kor. 7:5-16) en uiteindelik moes hy die bediening onder die gelowiges op die eiland Kreta behartig (1:5). Paulus het Titus mettertyd tot suksesvolle en volwasse leierskap begelei, en hierdie brief met sy verskillende bedieningsopdragte is ‘n verdere stap in die toerustingsproses.

Paulus begin die brief met die gebruiklike briefopening, maar met ‘n veel langer selfbekendstelling as gewoonlik. (1:1-3). Die brief bevat nie ‘n danksegging nie, maar die liggaam daarvan begin met ‘n oorkoepelende bedieningsopdragte (1:5), en die opdrag om ouderlinge in die verskillende dorpe aan te stel (1:5-9). Vervolgens gee Paulus riglyne vir die hantering van dwaalleraars wat geld wil maak (1:10-2:1), ‘n saak waarop hy aan die einde van die brief weer terugkom (3:9-11). Paulus gee ook opdragte vir die hantering van verskillende groepe in die gemeente: ouer mans en vroue (2:2-5), jonger mans (2:6-8), slawe (2:9-10), en hy verduidelik hoekom hy die opdragte gee (2:11-14). Hy gee verskillende gedragsriglyne vir gelowiges (3:1-2), en verduidelik waarom die gelowiges onder verpligting is om die riglyne lewenspraktyk te maak (3:3-8). Die brief eindig met persoonlike versoeke en ‘n laaste bedieningsopdrag aan Titus (3:12-14), en die gebruiklike briefslot (3:15).

Hierdie brief gee ons heelwat inligting oor die organisasie van die eerste-eeuse gemeentes, en ‘n mens kom ook agter met watter tipe probleme die gelowiges te doen gehad het. Uit die verskillende bedieningsopdragte wat Paulus aan Titus gee, kan ‘n mens baie beginsels vir ons hedendaagse gemeente-organisasie aflei. Die aandagtige deurlees van hierdie brief sal nuttige riglyne vir jou eie dienswerk in jou gemeente gee, en jou veral laat besef dat jy die plig het om jou gawes te gebruik om ander gelowiges toe te rus sodat jy nie onmisbaar in jou gemeente sal wees nie.

Hier is die Bybelstudie rondom die Bybelboek – Titus –

(Druk gerus op die skakel vir die dokument)

INLEIDING TOT TITUS –

https://drive.google.com/file/d/1nESf9oYY3VFvxuSrnbgvalNKZGK_A481/view?usp=sharing

HOOFSTUK 1

https://drive.google.com/file/d/1AzCvZVCWQgcCzKd8YdI5YRVyPqNK0dfv/view?usp=sharing

HOOFSTUK 2

https://drive.google.com/file/d/1QNHSIOSYUYriaWvKhWUO8W86B9zpHPSb/view?usp=sharing

HOOFSTUK 3

https://drive.google.com/file/d/1hCV523-kOluPEsuWtE2CkWg1_cUjI3U4/view?usp=sharing