Geneem uit die boek van

Selwyn Hughes

Skep nuwe moed

Bybelse hulp vir swaarkrytye

Een van die grootste gevare wanneer ons deur hartseer oorweldig word, is dat ons in selfbejammering kan verval. Dit gebeur so maklik. Selfbejammering is die ‘arme-ek-sindroom’; dit is wanneer ons jammerte oor onsself uitstort in die hoop dat die pyn wat ons ervaar, verlig sal word.

Sensitiewe mense is meer geneig tot selfbejammering omdat hulle makliker seerkry. Sensitiwiteit is die vermoë tot simpatie en God rus ons hiermee toe sodat ons diep meegevoel met ander kan hê. Wanneer dit hiervoor gebruik word, is dit ‘n wonderlike ding. Wanneer dit egter op onsself gerig word, is dit ‘n skending van God se doel met ons en verval ons in ‘n ellendige bui.

Die werklike probleem met selfbejammering is dat God uit ons lewe verdring word deur ‘n selfgesentreerde poging om ons pyn te verwerk. Eerder as om ons na God te wend te midde van ons beproewinge en ons pyn na Hom te bring, verkies ons ‘n tydelike pynstiller – selfbejammering. Ons krimp ineen, ons kerm, ons sug, ons kla en ons beskuldig God daarvan dat Hy vergeet het om ons genadig te wees, en terwyl ons so verdiep is in onsself, begin lyk ons klein, persoonlike probleme ernstiger as die groot tragedies wat in ander mense se lewens afspeel. Die bejammering wat ons kwistig op onsself uitstort, verlig die pyn, maar op ‘n wyse wat God ignoreer.

Selfbejammering is sensitiwiteit wat in selfsugtigheid ontaard het; ons verkies ons eie manier om die pyn te hanteer teenoor God se manier. Die enigste ware oplossing vir selfbejammering is bekering. Ons moet ons bekeer van ons koppige neiging om ons eie probleme onafhanklik die hoof te probeer bied en ons pyn te probeer verlig, in stede daarvan om in magtelose oorgawe na God te draai. Eers dan sal selfbejammering tot ‘n einde kom.

O Here, vergewe my dat ek verkies om op my eie hulpmiddele eerder as u hulp te steun wanneer ek in pyn verkeer. Ek het berou oor hierdie diepgewortelde neiging in my, en wend my tot U om vertroosting, genesing en bevryding. In Jesus se Naam. Amen.

 

Skrifverse vir oordenking

1 Ons neiging om op ander hulpbronne, eerder as op God te vertrou

Jesaja 31: Ellende wag vir die wat by Egipte hulp gaan vra; hulle verlaat hulle op perde, hulle is vol vertroue as daar baie strydwaens is, as hulle oor ‘n menigte ruiters kan beskik; maar op die Heilige van Israel vertrou hulle nie, na die wil van die Here vra hulle nie. (vers 1)

2 God alleen is ons bron van krag

Psalm 57: Wees my genadig, o God! Wees my genadig, want by U soek ek skuiling. Onder u vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is. (vers 2)

3 Die Goddelike uitnodiging tot vertroue

1 Petrus 5: Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. (vers 7)

4 ‘n Besluit wat almal moet neem

Spreuke 3: Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. (vers 5)

5 Seëninge is afkomstig uit vertroue

Psalm 40: Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel. (vers 5)

6 Waar daar geen bekering is nie, is daar geestelike dood

2 Korintiërs 7: Droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood. (vers 10)

7 Die weg tot bekering

Jakobus 4: Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog. (vers 9-10)

8 Handhaaf ander-gesentreerdheid

Filippense 2: Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan die van ander. (vers 4)