Geneem uit die boek van
Selwyn Hughes
Skep nuwe moed
Bybelse hulp vir swaarkrytye
Die Bybel stel dit baie duidelik dat God gewillig is om sy kinders se siektes gesond maak. Hy het mans en vrou in die Ou en die Nuwe Testament gesond gemaak. In die Ou Testament is daar ’n naam wat aan God toegeken word as, ‘Jehova Rophi’ wat beteken: ‘Dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou (Eks 15:26)’. In een van die talle skrifgedeeltes wat handel oor genesing – in Jakobus – word mense aangemoedig om vir mekaar te bid, sodat ons genees kan word (Jak 5:16).
As ons deur ernstige siekte aangetas word, dan is dit goed om na die kerk uit te ryk en medegelowiges te vra om vir jou te bid en self die ds. in kennis te stel om jou in jou geloof, tydens jou siekte, te ondersteun (Jak 5:14). Mediese advies behoort ook ingewin te word. Dit is nie ’n teken van ’n gebrekkige geloof om mediese hul in te kry wanneer ’n mens gebuk gaan onder siekte nie.
Wat gebeur as die die siekte voortduur en genesing ons ontwyk? God is in staat om ons moedig te hou wanneer ons nie opgeruimd voel nie; om ons bewus van sy teenwoordigheid te hou te midde van ’n gebrek aan lewenskrag. Dit is so dat God nie altyd gesond maak nie en maak nie saak hoe ons hierdie feit probeer verduidelik nie, moet ons insien dat genesing deur ’n mate van geheimenis omring word. Niemand dra meer kennis of was deegliker bewus van die probleem dat God nie altyd ons beproewinge wegneem nie as God se dienaar Job nie. Hy het baie vrae daaroor aan God gestel, maar hy het geen pertinente antwoorde daarop gekry nie. God het eerder aan Job iets beters gegee – ’n ryker en dieper bewustheid van sy teenwoordigheid en die wete dat God se wil nie altyd deur ons wil beïnvloed word nie.
God verskaf nie noodwendig ’n duidelike rede hoekom ons nie genees word nie, maar Hy sal, indien ons Hom toelaat, ’n ryker bewustheid van Homself skenk. En niks kan dit oortref nie.
Teksverse vir oordenking
- Christus se sterwe aan die kruis het ook betrekking tot siekte
16 Toe dit aand word, het hulle baie wat in die mag van bose geeste was, vir Hom gebring. Hy het die geeste met ’n woord uitgedryf en al die siekes gesond gemaak. 17 So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.” – Matteus 8:16-17
- Genesing is deel van God se plan
26 Hy het gesê: “Julle moet goed luister na wat Ek, die Here julle God, sê! Julle moet doen wat reg is in my oë, gehoor gee aan my gebooie en alles doen wat Ek vir julle voorskryf. Dan sal Ek geeneen van die siektes waarmee Ek Egipte getref het, oor julle bring nie, want dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou.” – Eksodus 15:26
- Het jy dit reeds probeer?
14 As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. – Jakobus 5:14
- Al stuur God nie genesing nie, stuur Hy altyd krag
29 Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. – Jesaja 40:29
- Nog ’n belofte van Goddelike krag
35 Erken dat God magtig is! Hy heers oor Israel, Hy het mag oor die wolke! – Psalm 68:35
- Algenoegsame genade
9 Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. – 2 Korintiërs 12:9
- En selfs nog meer krag
10 Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. – Jesaja 41:10
- Die troos wat God jou skenk, kan ook gebruik word om ander te vertroos
4 In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig, – 2 Korintiërs 1:4