Geneem uit die boek van
Selwyn Hughes
Skep nuwe moed
Bybelse hulp vir swaarkrytye
As ons oor vrees dink, dan kan ons erken dat vrees vir ons ’n vriend en ’n vyand kan wees. Gesonde vrees kan ons help om goed te oordeel deur, bv. nie oor ’n besige straat te loop nie; dit help ons dus om versigtig te wees en dit bewaar lewens.
Daarteenoor is ongesonde vrees sleg, omdat dit gou-gou ons persoonlikheid kan oorrompel. Die vier algemene vrese in die lewe (Genoem, die ‘Gevreesde Vier’) is die volgende:
- Die vrees vir verwerping
- Die vrees vir mislukking
- Die vrees vir die dood
- Die vrees om in wanhoop te verval.
God stel wel sy kinders in staat om vrees te hanteer! Hy gee aan ons die krag om enige iets wat oor ons pad kom te trotseer en Hy verseker ons dat ons in staat is om enige probleem op ons pad te oorkom – deur Hom.
Die Apostel Paulus stel dit so:
‘Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7).
’n Onderliggende faktor in alle ongesonde vrees is die begeerte tot ontwyking. As mens se hart gevul is met vrees dan sê jy: ‘As jy bang is – ontwyk.’
En tog, word ons in so ’n mate versterk deur die werking van die Heilige Gees in ons siel, dat Hy ons in staat stel om enigiets wat ons bedreig trompop te loop, in die sekere wete dat ongeag wat gebeur, niks ons ooit kan skei van God en sy oneindige liefde nie.
Die Apostel Johannes het gesê: “Volmaakte liefde verdryf vrees’ (1 Johannes 4:18).
Deur stil te raak in God se liefde – ’n liefde wat ons nooit alleen sal laat nie – is ons in staat om enige situasie wat ons bangmaak, te betree met ’n vertroue wat alle vrees oorkom.
Vrees sê: “Ontwyk”.
Geloof sê: “Konfronteer.”
Laat God saam met jou die dinge wat jou bang maak nader en kyk wat Hy daaromtrent gaan doen.
Teksverse vir oordenking
- As God is wie Hy is, waarom sal ons vrees?
Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?- Psalm 27:1
- As mens God vrees, dan hoef jy niks anders te vrees nie
4 Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. – Psalm 23:4
- Jou enigste veilige opsie is om op God te vertrou
25 As jy vir mense bang is, kan jy in ’n strik beland, maar as jy jou vertroue in die Here stel, is jy veilig. – Spreuke 29:25
- Vrees is nie deel van ons kindskap nie
15 Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. – Romeine 8:15
- God moedig ons aan om nie te vrees nie
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. – Jesaja 43:1
- Alles kan vergaan maar God sal nooit nie
2 God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. 3 Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, – Psalm 46:2-3
- Die Almagtige God is ’n seker en veilige toevlug
10 Die Naam van die Here is ’n sterk vesting; die regverdige vind daar skuiling. – Spreuke 18:10
- God se vrede is soos ’n wag wat nooit van diens af gaan nie
7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. – Filippense 4:7