Oorsig – Bybel in Praktyk

‘n Mens wat swaarkry omdat die samelewing jou verstoot en teen jou diskrimineer, is dikwels so verpletter dat dit vir so ‘n persoon voel asof hy/sy geen hoop meer het nie. Baie mense wat al so moes ly, weet dat die versoeking baie groot is om eenvoudig of boedel oor te gee of reg in eie hande te neem en te vergeld.

Dit was waarskynlik die posisie waarin die geadresseerdes van hierdie brief hulleself bevind het. Hulle omstandighede is so moeilik dat hulle dreig om tou op te gooi. Hulle sien nie langer kans vir die prys van hulle vreemdelingskap nie. Al die verontregting en vervolging het veroorsaak dat hulle sonder uitsig op die toekoms is, en vasgevang voel deur hulle moeilike omstandighede. Hulle is onder druk om of met die ongelowiges (die hoofstroom ) se lewenswyse en oortuigings te assimileer, of om sodanige lae profiel te handhaaf as gevolg van die druk wat hulle van die ongelowiges se kant ervaar, dat hulle nie meer met hulle dade en woorde getuienis lewer van die feit dat hulle net Jesus Christus as Here erken nie.

Petrus wil aan die gelowiges in westelike Klein-Asië perspektief op hulle situasie gee. Dit doen hy deur hulle aan spesifieke geloofswaarhede en gedragsvoorskrifte te herinner en dit te herbevestig, en deur ou waarhede in nuwe omstandighede nuut toe te pas. Hy wil hulle daartoe bring om raak te sien dat uitverkiesing deur God nie noodwendig teëspoed, soos vreemdelingskap en ontworteling uit jou land, uitsluit nie. Hulle moet ook die feit dat hulle uitverkiesing vasstaan, erken en beleef. Verder moet hulle besef dat hulle geroep is om hulle gedrag net deur Christus te laat bepaal. Dit alles doen die skrywer met sy brief, wat soos briewe destyds geskryf was, bestaan uit ‘n briefaanhef, ‘n briefliggaam en ‘n briefslot.

Die briefaanhef (1:1-2) bevat die skrywer, die geadresseerdes, en die groet. Die briefliggaam (1:3-5:11) bestaan uit ‘n inleiding gedeelte (1:3-12) waarin daar ‘n loferkenning aan God gegee word vir die feit dat Hy die nuwe lewe (wedergeboorte) aan die gelowiges gegee het (1:3-5). Hierdie wete moet ‘n reaksie van blydskap by die gelowiges ontlok, al is dit nodig dat die egtheid van hulle geloof deur allerhande beproewings getoets word (1:6-9). In 1:10-12 word die lofverheffing van 1:3-5 hervat en die bevoorregte posisie van die lesers in vergelyking met die profete van die ou bedeling word uitgespel.

Die res van die liggaam van die brief bestaan uit vier groot oproepe. Die eerste oproep (1:13-25) versoek die gelowiges om hulle hoop te vestig op God se genade, en om te sorg dat hulle lewenswandel heilig is. Die tweede oproep (2:1-10) spel uit wat die weergeborene se plig ten opsigte van persoonlike groei en ten opsigte van saamgroei met medegelowiges is. Die derde oproep (2:11-4:19) voorsien gedragsvoorskrifte vir “vreemdelinge en bywoners”. Eers word die basiese beginsel gestel: die gelowiges moet hulle altyd goed gedra (2:11-12). Daarna word die beginsels toegepas op die verhouding met die landsowerheid (2:13-17), met werkgewers (2:18-25), met die huweliksmaat (3:1-7), met die naaste in die algemeen (3:8-12), en die houding teenoor en reaksie op verontregting (3:13-4:19). Die vierde oproep (5:1-11) gee riglyne vir die gedrag binne die kerk. Hierdie brief is dus ‘n bemoediging vir gelowiges wat swaarkry omdat ander mense, spesifiek ongelowiges, hulle veronreg. Dit is ‘n bemoediging om jou lewe toe te vertrou aan die getroue Skepper en aan te hou goed doen (4:19).

1 Petrus – Inleiding

1 Petrus – Hoofstuk 1