In die jaar van 1971 is die volgende koerantberig geskryf oor die bou van ons kerk.
Die toring dui pad na hemel
Vir die gemeente van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Randburg was die naweek van 6 en 7 November 1971 vol hoogtepunte.
‘n Lang gekoesterde ideaal is vir hulle verwesenlik met die inwyding van ‘n sierlike kerkgebou. Die wydingsrede is uitgespreek deur Prof. B.J. Engelbrecht, wie vroeër ook predikant van die gemeente was. Sowel die argitek as die ingenieur is dienende kerkraadslede van die gemeente.
Die geboue self maak n oorweldigende indruk op verbygangers en besoekers. Die argitek het skitterend daarin geslaag om van eenvoud ‘n verhewe en grootse gebou te ontwerp.
Met die Ou Testamentiese , ‘tent van samekoms’ wat in ons geskiedenis geword het die Nagmaals- of kerktent in gedagte, het die argitek sy gebou ook so ontwerp dat dit soos ‘n tent vertoon.
Hiervoor het die ingenieur ‘n hangdakkonstruksie beplan wat uniek is in die Republiek. Die kerkgebou vertoon inderdaad ook soos ‘n tent van samekoms.
Die kunstenares, Mev. Elly Holm, het twee panele ontwerp, nl. ‘Die Saaier’ en ‘Die Goeie Herder’ wat in brandglas uitgevoer is. Hierdie panele is aan beide kante van die hoofingang geplaas. Gedurende die dag vertoon hierdie panele op hul beste aan die binnekant van die kerkgebou, maar gedurende die nag vertoon die panele weer op hul beste aan die buitekant.
Die toring is sigbaar van die binnekant van die kerkgebou.
Aan die voet van die toring staan die preekstoel. Vanaf die preekstoel skiet die toring omhoog tot ‘n hoogte van 70 voet. Bokant die preekstoel is die Christusmonogram aan die toring vasgeheg.
Wanneer ‘n mens dus in die kerkgebou sit sien jy eers die preekstoel waar die Woord van God verkondig word. Maar met die toring direk agter die preekstoel word jou oog onmiddellik opgetrek na boontoe.
Die toring dui as’t ware die pad aan na die hemel – maar op die pad vind jy die Christusmonogram, m.a.w. jy kan alleen in die hemel kom deur Jesus Christus.
Tesame met hierdie simboliek en die panele van ‘Die Saaier’ en ‘Die Goeie Herder’ spreek die kerkgebou self ‘n duidelike boodskap uit, wat ongetwyfeld groot indruk op die mense maak.
Nog ‘n eienskap van die kerkgebou is dat dit reeds ingerig is om televisie-uitsendings te kan doen.
Geskiedenis: Die gemeente Randburg het ‘n lang en veelbewoë geskiedenis. Die eerste gemeente alhier is gestig in Mei 1947 en het Fontainebleau en omgewing bedien. In 1954 is ‘n gemeente te Ferndale gestig en hierdie twee gemeentes het in 1964 verenig. Twee vorige leraars van die gemeentes beklee nou ‘n professoraat aan die Universiteit van Pretoria, Prof. B.J. Engelbrecht en J.I. de Wet.
Die huidige pastoriepaar, Ds. En Mev. M.J. van Schalkwyk het hul werksaamhede in die gemeente begin in Augustus 1967. Toe het die gemeente ‘n skuldelas van R17 500 gehad en was die getal lidmate omtrent 500. Met geloof en tale volharding is hierdie skuldelas binne agtien maande gedelg. Van 1969 kon fondse vir die bou van die kerk ingesamel word.
So voorspoedig het hierdie insameling beloop dat begin kon word met die oprigting van die kerkgebou aan die einde van 1970. Boukoste beloop R115 000 en hiervan het die gemeente binne drie jaar R65 000 ingesamel. ‘n Kermis wat op Mei 1971 gehou is, het alleen die bedrag van R13 000 opgelewer. Intussen het die gemeente se getal verdubbel en tel tans n rapsie oor die duisend.











