• Huweliksdatums moet asseblief vroegtydig met die betrokke predikant gereël word.
  • Maak ’n afspraak met die Predikant vir huwelikskategese.
  • Tydens huwelikskategese moet die volgende dokumente ingedien word.
    • Afskrifte van die Bruid en Bruidegom se ID-boekies,
    • Afskrifte van die egskeidingsbevel (indien u geskei is) en/of doodsertifikaat van vorige eggenoot/e.
    • Afskrifte van die ID-boekies van die twee persone wat as getuies in die huweliksregister gaan teken.
    • Brief van die prokureur indien daar ’n Voorhuwelikse kontrak is.
    • Volledige woonadres na die huweliksbevestiging
  • Indien u van die kerkgebou gebruik gaan maak moet vroegtydig reëlings vir die Koster en die Orrelis deur die Kerkkantoor getref word.
  • Onthou asb. dat daar bepaalde finansiële verpligtings t.o.v. die Koster, Orrelis en Predikant is. Meer inligting is by die Kerkkantoor beskikbaar.
  • Bespreek vroegtydig die kerksaal, indien u dit wil gebruik.
  • U kan ds. CJ van Wyk kontak indien u ’n Engelse- of Tweetalige Huweliksbevestiging wil hê.

DIENSFORMULIER VIR DIE BEVESTIGING VAN DIE HUWELIK (2)

N en N, u het begeer dat u huwelik in die Naam van God bevestig sal word. Daarom moet u hoor wat God in sy Woord oor die huwelik sê:

Die Here God het gesê: ‘Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.’ Daarom het Hy vir die mens ‘n vrou gemaak en haar na hom toe gebring. God self het dus die huwelik ingestel.

Die huwelik is onverbreeklik. Van die huweliksband sê die Here Jesus: ‘Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie.’ Hy leer ons dat dit God se wil is dat die huwelik alleen deur die dood ontbind mag word.

God se Woord onderrig man en vrou ook oor hoe hulle teenoor mekaar moet optree: ‘Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie. Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, soos dit pas by mense wat in die Here glo.’ Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. Vestig u hoop op God en bewys eerbied aan mekaar, omdat u saam deel in die lewe as genadegawe.

In die beproewings en teëspoed wat op aarde en ook in die huwelik voorkom, wil God ook sy seën en hulp skenk. U moet in u harte seker wees van God se hulp en in die vertroue lewe dat Hy sy bystand aan u wil verleen, selfs wanneer u dit glad nie verwag nie.

Deel in mekaar se omstandighede, wees nederig en sagmoedig, goedgesind en verdraagsaam teenoor mekaar. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here u vergewe het, moet u mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet u mekaar liefhê. Dit is die band wat u tot volmaakte eenheid saambind. Laat die vrede wat Christus gee, in u lewens die deurslag gee. God het u immers geroep om in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in u bly. Wat u ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Wetlike vrae

N en N, noudat u weet dat Got die huwelik ingestel het en wat Hy in sy Woord daaroor beveel, verklaar u hier voor die alwetende God en in teenwoordigheid van die Christelike gemeente, dat u u huwelikslewe só wil lei soos God beveel het?

Antwoord: Ja

Verklaar u, N (bruidegom), dat sover u weet daar regtens geen beletsel is teen u voorgenome huwelik met N (bruid), hier teenwoordig nie, en dat u almal hier teenwoordig roep om getuie te wees dat u haar tot u wettige vrou neem? Wat is hierop u antwoord?

Antwoord: Ja

Verklaar u, N (bruid), dat sover u weet daar regtens geen beletsel is teen u voorgenome huwelik met N (bruidegom), hier teenwoordig nie, en dat u almal hier teenwoordig roep om getuie te wees dat u hom tot u wettige man neem? Wat is hierop u antwoord?

Antwoord: Ja

Die huweliksbevestiger rig hom/haar nou so tot die bruidspaar:

Mag ons Here God die voorneme wat Hy u gegee het, bevestig, en mag die begin van u huwelik wees in die Naam van die Here wat hemel en aarde geskep het.

Gee mekaar nou die regterhand.

Afneem van die huweliksbelofte

N (bruidegom), u het voor God en almal teenwoordig verklaar dat u N (bruid) as u wettige vrou neem. Beloof u dat u haar sal liefhê, vir haar sal sorg, haar nooit sal verlaat nie en in lief en leed by haar sal bly; dat u vroom en in vrede met haar sal lewe en haar in alles getrou sal bly; dat u al u pligte as Christelike man na die beste van u vermoë sal nakom, soos God in sy Woord beveel? Wat is hierop u antwoord?

Antwoord: Ja

N (bruid), u het voor God en almal teenwoordig verklaar dat u N (bruidegom) as u wettige man neem. Beloof u dat u hom sal liefhê, hom sal dien en help, hom nooit sal verlaat nie en in lief en leed by hom sal bly; dat u vroom en in vrede met hom sal lewe en hom in alles getrou sal wees; dat u al u pligte as Christelike vrou na die beste van u vermoë sal nakom, soos God in sy Woord beveel? Wat is hierop u antwoord?

Antwoord: Ja

Ek verklaar dat N en N hier teenwoordig, regtens getroud is. Mag die Vader van alle barmhartigheid wat u deur sy genade tot hierdie huwelik geroep het, u met opregte liefde en trou verbind en u sy seën gee.

Amen