Randburg se senior-lidmate kuier gesellig saam met die NHSV

Saterdag, 15 November 2014 sal nog lank onthou word deur die seniorlidmate van gemeente Randburg. Dit was ʼn heerlike reënerige dag en elke senior-lidmaat wat die weer trotseer het, het gesellig saam gekuier om ʼn keurig gedekte etenstafel.

Ds. JJ van Sittert het die verrigtinge geopen met skriflesing en gebed waarna die NHSV voorsitter, Christa Clifton, almal teenwoordig verwelkom het. Ds. CJ van Wyk het ʼn heildronk ingestel op die gaste. Kersklappers is getrek. ʼn Heerlike ontbyt is geniet en Elmien Botha, die gasspreker, het ons geboei met haar opbeurende gesprek van daar wees vir mekaar. Omgee, uitreik, ʼn vriendelike glimlag, ʼn sms of ʼn oproep na iemand wat dit nodig het, som die gesprek min of meer op. Sy sluit die gesprek af met ʼn vertelling van twee dogtertjies wat in ʼn arm woonbuurt in verskillende hoë woonstelgeboue gewoon het. Die een dogtertjie was in ʼn rystoel en nadat die hysbak van die gebou gebreek het kon sy nie meer die woonstel verlaat nie. Sonskyn was ʼn luukse wat sy nie meer kon geniet het nie. Sy en ʼn dogtertjie in ʼn ander woonstelgebou het oor en weer begin gesels. Op pad na die verlamde dogtertjie om haar op haar verjaarsdag te besoek het die ander dogtertjie ʼn flentertjie spieël opgetel waarmee sy toe elke dag ʼn stukkie son opgevang en weerkaats het in die verlamde dogtertjie se woonstel. So kon sy ʼn verskil in iemand se lewe maak en haar omstandighede verbeter.

Dis ʼn jaarlikse instelling van die NHSV om die lidmate wat meer gevorder is in jare en in wysheid te onthaal en op die wyse te bedank vir hulle jare lange toewyding aan die kerk.

Baie dankie aan een en elk wat ʼn bydrae gelewer het tot die suksesvolle oggend.