Skriflesing: 2 Samuel 18:31–33; Johannes 19:16–30
Tema: Waar ’n vader wens… en God volbring.
Die lewe plaas ons dikwels in die pynlike spanning tussen dit wat ons wens en dit wat werklik gebeur. Ons ken die gevoel van magteloosheid wanneer dinge buite ons beheer uitmekaar val – wanneer liefde nie genoeg is om te red nie. Goeie Vrydag help ons om hierdie werklikheid te verstaan deur twee tonele langs mekaar te plaas.
1. Maganajim(wegkruip dorp): ’n vader se magtelose rou
In 2 Samuel 18 sien ons Dawid nie as koning nie, maar as ’n gebroke vader. Wanneer hy hoor sy seun Absalom is dood, roep hy uit: “My seun… as ek maar in jou plek kon sterwe.” Sy liefde is diep en opreg, maar ook beperk. Hy wil sy seun red, maar hy kan nie. Hy bly agter met pyn, spyt en onvervulde wense. Hierdie toneel wys vir ons iets van ons eie lewe – ons wil herstel bring, maar ons is dikwels magteloos.
2. Golgota: waar die wens werklikheid word
Teenoor Dawid se wens staan Jesus aan die kruis. Waar Dawid sê: “Ek wens ek kon…”, sê Jesus: “Dit is volbring.” Hier kondig Hy aan dat die skuld ten volle betaal is. Jesus doen wat geen mens kan doen nie – Hy neem ons plek in en bring werklike verlossing. Waar menslike liefde stop, tree God se liefde in.
3. Die betekenis vir ons vandag
Ons word geroep om nie langer te probeer om onsself te red nie, maar om te leef uit wat Jesus reeds gedoen het. Die kloof tussen ons gebrokenheid en ons begeerte na herstel is oorbrug. Ons hoop lê nie in ons eie pogings nie, maar in sy voltooide werk.
“Dit is volbring” – en dit verander alles.
LEES OF KYK GERUS VERDER –
