Skriflesing: Sefanja 3:1-13
Tema: Elke môre is God reeds daar.
Sefanja 3 begin met ’n donker prentjie. Jerusalem het ver van God afgedwaal. Leiers, regters, profete en priesters het teleurgestel. Tog staan daar in die middel van hierdie gebrokenheid ’n verrassende waarheid: “Die Here is binne-in die stad.” God het nie verdwyn omdat die wêreld deurmekaar geraak het nie.
Hoofgedagte 1: sommige oggend word ons wakker en niks het verander nie
Geloof vra nie dat ons moet voorgee alles gaan goed nie. Daar is dae van onsekerheid, spanning, verlies en wagtye. Ons mag erken dat ons moeg is en nie weet hoe dinge gaan uitwerk nie. God verwag nie dat ons probleme eers opgelos moet wees voordat Hy by ons kan wees nie.
Hoofgedagte 2: elke môre is god reeds daar
Sefanja herinner ons dat God te midde van chaos teenwoordig bly. Sy teenwoordigheid hang nie van ons omstandighede of ons eie geestelike prestasie af nie. In Christus het God self ons gebroke wêreld binnegekom, en deur sy opstanding weet ons dat duisternis en dood nie die laaste woord het nie. Daarom kan ons elke oggend bely: “Here, U is reeds hier.”
Hoofgedagte 3: omdat god daar is, is vandag nie sonder hoop nie
Vanaf vers 9 begin herstel sigbaar word. God werk, vorm, herstel en roep mense terug na Hom. Ons sien nie altyd dadelik wat Hy doen nie, maar afwesigheid van sigbare verandering beteken nie afwesigheid van God nie.
Nabetragting vir die week
Wanneer jy môre wakker word, onthou: jy tree nie ’n leë dag binne nie. Jou probleem mag nog daar wees, maar God is ook daar.Elke môre is God reeds daar.
LEES OF LUISTER GERUS VERDER –
