Kom uit onder die besembos.
“Elia het in die woestyn onder ‘n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood” – 1 Kon 19:4.
Is jy op ‘n laagtepunt in jou lewe? Sit jy op moedverloor se vlakte, met jou hande in jou hare, omdat alles vir jou te veel geword het? Die lewe voel nie meer die moeite werd nie. Selfs ‘n groot profeet soos Elia was op ‘n stadium van sy lewe so depressief dat hy in die woestyn onder ‘n besembos gaan sit en gewens het dat hy maar moet doodgaan.
WAT BRING JOU OP SO ‘N PLEK?
Dit is wanneer jou probleme vir jou groter word as God. Op Karmel het Elia God se wonderwerke op ‘n magtige wyse ervaar. God was daar. Vuur het uit die hemel gekom en die altaar aangesteek (1 Kon18:38). Dit het weer begin reën na drie jaar van verskriklike droogte (:14, 45). Die volk het ‘n keuse gemaak vir God (:39). Al die Baälsprofete is doodgemaak (:40). Dit was ‘n hoogtepunt in sy lewe. Hy was in die wolke!
Maar toe word sy eie lewe bedreig. Isebel wil hom doodmaak (1 Kon19:2). Waar is God nou? Elia sien Hom nie meer raak in sy krisis nie. Hy staar hom blind teen al die negatiewe dinge. Alles word vir Hom donker.
Daarom word hy bang ( Kon 19:3); hy vlug ( :3), hy beland in die woestyn, alleen (:3, 4); hy gaan soek beskutting waar daar geen beskutting is nie – onder ‘n besembos; (:5); en hy is fisies en geestelik uitgeput; hy kom teen God in opstand (:4); hy is baie moedeloos (:5); en hy wens om maar dood te gaan (:4).
Voel jy ook soos wat Elia gevoel het, omdat jou probleme vir jou groter word as God?
HOE KOM EK ONDER DIE BOS UIT?
Goed steek sy hand na jou uit, hier waar jy nou is:
- Sien Hom raak. Hy is hier by jou. Hy het sy seun, Jesus Christus, na jou besembos gestuur om jou hier uit te haal, deur jou sonde, hartseer, pyn, eensaamheid, siekte, swaarkry, bekommernis… op Hom te neem. Hy het dit in jou plek aan die kruis gedra.
- Word wakker (:5). Kom tot jou sinne. Kyk die werklikheid in die oë en besef waar jy is. God wil jou nie onder ‘n besembos in die woestyn hê nie.
- Eet (:7). Jy het geestelike voeding nodig, en innerlike versterking. Elia het die kos geëet wat die engel vir hom gegee het, en hy kon deur die krag van die kos veertig dae en veertig nagte lank loop (:8). Jesus Christus wil vir jou DIE BROOD VAN DIE LEWE gee, sodat jy nooit weer honger sal word nie, en jou pad sal loop tot in die ewigheid. Eet hierdie brood.
- Beleef God se teenwoordigheid! (:11-13). Hy haal jou onder die besembos uit en bring jou op die berg, waar Hy ook vir jou sê: “Hier by My is ‘n plek waar jy op die rots kan staan” (Eks 33:21). God is nie net op Karmel met sy magtige vertoon, waar Hy vuur uit die hemel laat kom nie. Hy dra jou ook deur die eensame woestyn en bring jou op Horeb, waar jy sy teenwoordigheid ervaar in die “fluistering van die windstilte” (1 Kon 19:12). Hy wil jou nie onder ‘n bos hê nie, maar op die berg in sy teenwoordigheid.
- Skep moed! (:10, 18). Jy is nie alleen nie. “Ek het vir My sewe duisend manne laat oorbly wat nie vir Baäl aanbid nie” (Rom 11:4).
- Draai in jou spore om (:15). ‘n 360 grade omkeer is dalk nodig. Kom uit die woestyn uit en gaan doen wat die Here wil hê jy moet doen. Daar is soveel wat op jou wag. Jy het ‘n nuwe taak. Dis nie die einde van alles nie. Daar is meer as 7000 redes om op te staan en nuut te begin. Maar dan moet jy dit nou doen.
KOM UIT ONDER DIE BESEMBOS! STAAN OP EN BEGIN LEWE! KRY ‘N NUWE VISIE VAN GOD! DIE HERE IS GROTER AS JOU GROOTSTE PROBLEEM! Lê JOU HELE LEWE IN SY HAND! HY REGEER!!!