GENESIS
Bron –Die Bybel in Praktyk
OORSIG
Die woord “begin” bevat ‘n element van frisheid, verwagting en optimisme, of dit nou verwys na die aanbreek van ‘n nuwe dag, die eerste skreeu van ‘n pasgebore baba, die openingsakkoorde van ‘n musiekkonsert, of die aanvang van ‘n vakansie.
‘n Begin is nog vry van probleme en vol beloftes. Daarom bring dit hoop en verwagtings vir die toekoms. “Genesis” beteken “begin” of “oorsprong”. Vandaar hierdie naam vir die eerste boek van die Bybel wat oor die begin van alles gaan: magtige oseane, die lewe vanaf die heel kleinste wurmpie tot die grootste gedierte, die mensdom met sy moontlikhede en teleurstellings. Daarom is die boek Genesis die fondament waarop die res van die Bybel gebou word. In hierdie boek word God aan ons geopenbaar as die Skepper, Onderhouer, Regter en Verlosser; word die mens bekendgestel as die kroon van die skepping, geskape na die beeld van God, ‘n wese wat met God gemeenskap voer. Daar word ook vertel van die donker kant van die mens se verhouding met God: sy opstand teen, vervreemding van en oordeel deur God; en van die genade van God wat in liefde die mens nie verwerp nie, maar keer op keer na hom toe uitreik om te vergewe, op te rig en te gebruik. Genesis is ‘n boek van bemoediging en hoop. Hoe donker die wêreld ook al mag lyk, God is steeds in beheer. Hoe onbekwaam en nutteloos jy ook mag voel, hierdie boek wil bevestig: God het jou lief en wil jou gebruik. Maak nie saak hoe sondig jy is en hoe ver jy van die Here afgedwaal het nie, Hy kan van jou ‘n nuwe mens maak. lees Genesis… en skep nuwe moed!
Genesis begin by God. Hy skep die heelal met grote krag en majesteit en voer die skeppingsproses tot ‘n hoogtepunt wanneer Hy man en vrou na sy beeld maak(1:26, 27). Kort voor lank verskyn die sonde egter op die toneel. Adam en Eva se opstand teen God dompel die hele onskuldige skepping in sonde. Daardeur word die gemeenskap met God vernietig en begin die sonde om sy web oor die hele aarde te span: Adam en Eva word uit die pragtige tuin verban, en hulle oudste seun word ‘n moordenaar. Een sonde lei tot die volgende – totdat God uiteindelik almal op aarde behalwe die vrome Noag en sy klein familietjie moes uitwis.
Tog het die vloed nie die sonde uitgewis nie. daarvan getuig die verhaal van die toring van Babel. Gevolglik roep God één man, Abraham, om alles te verlaat sodat Hy opnuut die hart van die mensheid kon wen. deur geloof soos dié van Abraham en deur sy nageslag, die uitverkore volk van God, sal God weer die mensdom na Hom toe teruglei.
Die verhale van Isak, Jakob en Josef is meer as net interessante vertellings. Dit bevestig dat God getrou is aan sy beloftes en vertel iets van God se werkswyse om doodgewone mense te gebruik om wonderlike dinge deur hulle te doen. Daarmee word duidelik gesê dat God alle soorte mense vir sy koninkrykswerk op aarde gebruik: die geloofsheld én die een wat twyfel, die bedrieër én verwaande mense soos ons.
BELANGRIKE GEGEWENS
DOEL:
Om te vertel wie die heelal geskep het; waar die verwydering tussen God en mens, en mens en medemens vandaan kom; van die krag van die sonde, maar ook van die groter krag van God se liefde wat ‘n man roep en ‘n volk vorm ten einde die mensdom na God toe terug te lei.
SKRYWER:
Onbekend. Waarskynlik ‘n groot aantal oor baie eeue.
ONTSTAANSDATUM:
Die mondelinge ontstaan kan terugdateer na minstens 1 250 vC, maar die skriftelike neerslag het oor baie eeue geduur en is eers na die ballingskap (587 – 538 vC) voltooi.
PLASING:
Die landstreek wat vandag as die Midde-Ooste bekend staan.
KERNVERSE:
“God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep”(1:27). “Die Here het vir Abram gesê: … ‘Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees. Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees’” (12:1-3).
BELANGRIKE KARAKTERS:
Adam, Eva, Noag, Abraham, Sara, Isak, Rebekka, Jakob, Josef
HOOFTEMAS EN VERDUIDELIKING EN BETEKENIS VANDAG
Begin
God is die begin van alles, die ware Skeppergod.
God het alles, ook die mens, goed geskape en as Skeppergod is Hy in beheer van alle dinge.
Opstand
Opstand teen God is die oersonde en die oorsaak van alle ellende.
Alle verdriet en trane kan herlei word tot die breuk tussen God en mens.
Sondeverspreiding
Sonde is nooit ‘n privaat aangeleentheid nie.
Sonde affekteer alle verhoudings, vanaf die intiemste menseverhoudings tot dié met die natuur.
Beloftes
God verbind Homself deur bepaalde beloftes te maak. So ‘n belofte word dikwels ‘n “verbond” genoem.
Die belofte/verbond is bedoel om tot die beswil van die mensdom te wees, en omdat God Homself daarmee verbind, kan die mens seker wees dat dit wel nagekom sal word.
Redding
Omdat God Skeppergod is, is Hy ook die Reddergod.
Die mens is God se skepping, daarom kan Hy hom nie totaal verwerp nie en red Hy die mens uit sy ellende.
Vertroue
Redding geskied deur vertroue.
Vertroue in God is die keersy van opstand teen God. Dit is die enigste weg terug na God toe.
Werkwyse
God se werkwyse om tot geloof te bring en te red, is anders as dié van mense.
Mense kies die bekwaamste persone en die gunstigste omstandighede, maar God maak gebruik van die onbekwame mens en die ongunstigste omstandighede.
Ge-PDF…. Genesis – oorsig