Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Is dit mans op hul beste? – Blitspos 24 Januarie 2019

Die volgende artikel geneem uit die NHKA aanlyn blitspos van 24 Januarie 2019

Sien die advertensie, waaroor artikel gaan,  by https://www.youtube.com/watch?v=koPmuEyP3a0

 

Die jongste advertensie van Gillette het nogal vir ’n knuppel in die (hane)hok gesorg! Dis opmerklik dat baie meer mans as vroue die advertensie kritiseer. Verskillende mans het kapsie gemaak daarteen en baie het selfs gesê dat hulle Gillette se produkte in die toekoms gaan boikot – omdat, volgens hulle, die advertensie sê dat alle mans bullebakke is.

 

Die vraag is: Wat is ’n “ware man”? Wat is tipies van mans, en is daar so iets soos ’n tipiese

man? Hoe beïnvloed mans se “tipiese gedrag” die ander mense rondom hulle?

 

Daar bestaan beslis stereotipes aangaande mans:

  • ’n Man mag nie huil of wys as hy seerkry nie.
  • Gelukkig mag hy vloek en slaan.
  • Mans los probleme meestal deur geweld op.
  • Seksuele teistering is “snaaks”.

 

Na my mening wil die advertensie sê dat bogenoemde sake NIE die beste aspek van manwees is nie, en dat hierdie stereotipes die beste deur mans self teëgewerk kan word. Dit doen ’n beroep op mans om hul gewildheid in die portuurgroep op te offer ter wille van diegene wat aan die kortste end trek – ongeag hul geslag, ras, ouderdom of watter ander kategorie ook al gebruik word om mense magteloos te maak.

 

Dit klink nogal vir my asof dit in lyn is met wat Jesus vir ons deur sy lewe gewys het, en wat

nou sy volgelinge se taak is. Iemand sê dissipels is eintlik soos vakleerlinge: Hulle leer by hul Meester hoe hulle moet optree. Daar is min twyfel dat Jesus ons leer om die mag wat ons wel het, te gebruik tot voordeel van dié wat die minste mag in ’n situasie het.

 

Die saak wat in hierdie advertensie uitgelig word, is die misbruik van manlike mag, en dan

spesifi ek aan die hand van boeliegedrag en seksuele teistering. Die feit dat nie net mans

boelie nie, of dat almal nie so is nie, verskoon nie die gedrag wanneer dit wel voorkom nie.

 

Die idee dat dit in die haak is om so te maak, word versterk wanneer ons lag vir ’n seksistiese “grappie” of insinueer dat ’n vrou met haar kleredrag daarna “gesoek het” om seksueel geteister te word, of wanneer jy net NIKS doen of sê wanneer jy so iets waarneem nie!

 

Die vraag is nie of ons almal so is nie. Die vraag is of ons almal ’n verantwoordelikheid het om onsself en mekaar aanspreeklik te hou. Wil ons as mans nie eerder bekend staan daarvoor dat ons ons mag aanwend tot voordeel van die magloses in ons geselskap nie? Doen ons dit, al ly ons eie “reputasie” dalk daaronder?

 

Oorlede Louis Malherbe het altyd vir die tieners gesê: Onthou, dit wat jou reputasie skade

doen, bou meestal jou karakter! Ek dink nogal dis wat Jesus van sy vakleerlinge vra.

 

Sien die advertensie by https://www.youtube.com/watch?v=koPmuEyP3a0

Ds Gys Els, Emeritus

 

Leave a comment

0.0/5

Adres

1 Kerk Avenue, Ferndale, Randburg, 2194

Kontak Ons

NHK Randburg © 2025. All Rights Reserved.