Oorsig

Goeie prokureurs en advokate is daarvoor befaamd dat hulle ‘n saak klinkklaar kan argumenteer. Hulle noem presies die regte argument op die regte stadium, hulle gebruik al hulle kundigheid en ervaring om die saak so te belig dat dit volledig duidelik is wat hulle wil sê. Die wyse waarop Paulus die evangelie in die Romeinebrief uiteensit, getuig van dieselfde briljantheid. Die inhoud is duidelik, maar op baie plekke so diep, dat geleerdes oor verskeie dele van hierdie brief nog lank nie klaar gepraat het nie.

Paulus was nog nie self in Rome nie, maar uit die groetes in sy brief (16:1-16) is dit duidelik dat hy baie gelowiges daar geken het. Daar is nie regtig sprake van ‘n gemeente nie, maar van gelowiges wat waarskynlik as huisgemeentes dwarsoor die stad gefunksioneer het. Geen apostel het in Rome gewerk nie, en die evangelie het waarskynlik daar gevestig geraak vanweë die talle verhuisings van mense en veral omdat baie mense hulle vanuit ander dele van die Ryk in Rome, die hoofstad, gaan vestig het.

Daar is ‘n hele reeks redes vir Paulus se skrywe van sy brief. Hy wil graag die Christene in Rome besoek om hulle te bedien. Hy hoop egter ook om hulle medewerking te kry in die sendingwerk wat hy in Spanje wil gaan doen. Hy skryf dus die brief om reeds voor sy besoek homself bekend te stel en sy verstaan van die evangelie aan hulle uiteen te sit. Dis is duidelik dat dit nie sommer ‘n vinnige briefie is nie, maar dat daar deeglike beplanning agter sit.

Die brief begin met die gebruiklike, maar uitsonderlike lang aanhef (1:1-7). Daarna volg die danksegging waarin Paulus God dank vir die gelowiges in Rome (1:8-12). In 1:13-17 gee hy ‘n aanloop tot die hoofbetoog en noem ook die tema van die brief (1:16-17). Daarna beredeneer Paulus dat alle mense, Jode en nie-Jode, skuldig staan voor God (1:18-3:20), maar dat God diegene wat glo, uit genade vryspreek (3:21-4:25). In hoofstukke 5-8 sit hy uiteen dat gelowiges as vrygespreektes nuwe mense is: hy skryf oor die heerlikheid van ons nuwe bestaan (5:1-11), ons nuwe verbondenheid (5:12-21), dat ons as mense wat vry is van die wet, deur die Gees beheers word (7:1-8:39). In hoofstukke 9-11 verduidelik hy wat die posisie van die Joodse volk is: na ‘n kort inleiding (9:1-5), skryf hy van Israel se verkiesing en struikeling, en die toetrede van die heidene (9:6-10:21), maar dat daar ook vir die Jode ‘n deur van hoop is (11:1-36).

Vervolgens handel hy oor verskillende fasette van Christenskap in praktyk (12:1-15:13), waaronder ‘n hele gedeelte oor die sterkes en die swakkes in die geloof (14:1-15:13). Daarna maak hy verskillende mededelings, groetes en rig laaste oproepe (16:1-23). Hy eindig die brief met ‘n lofprysing (16:25-27).

Lees Romeine met aandag en toets of jou insig in die evangelie klop met dit wat God hier deur Paulus daaroor duidelik maak.

 

Kom loop saam deur die Romeine brief en studeer en leer. Mag die Heilige Gees ons oë open vir die Waarheid van God se Woord!

Elke week sal u hier die nuwe studie stukke vind wat ook tydens die geloofsgroei geleenthede op Woensdae aande by die kerk plaas vind.

Inleiding 

Inleiding – Romeine

 

Hoofstuk 1

Romeine Hoofstuk 1