Die Kerkjaar en simboliek

Die Kerkjaar of liturgiese jaar is die ritme van Christelike feesdae en seisoene. Dit is die polsslag waarmee die kerk van Christus lewe.

in die Kerkjaar word die hooftrekke van die heilsgeskiedenis soos dit tot openbaring kom in die lewe, sterwe en werk van Jesus Christus deur die gemeente in die hede gevier. Hierdeur kan die gemeente met die heilsgeskiedenis identifiseer en dit hul eie maak. So word die heilsgeskiedenis ook aan kinders en nuwelinge in die geloof oorgedra.

Die erediens word op die Sondag gevier, omdat dit die dag van die opstanding is. Die tyd in die Kerkjaar bepaal egter telkens die aard, inhoud en fokus van ’n spesifieke erediens.

Die verskillende tye in die Kerkjaar word simbolies ingeklee met verkondiging wat ook visueel deur middel van simbole, kleur en beelde geskied. So kry die gemeente deur ’n geheel van verkondiging en kommunikasie op verskillende vlakke deurgaans ’n bewussyn van die vaste punte in ons geloofslewe.

Die Kerkjaar wat in die Nederduitsch Hervormde Kerk gevier word, volg die van die ekumenies-liturgiese tradisie in vereenvoudigde vorm – vereenvoudig wat spesifieke dae en tye in die jaar betref, maar ook wat die simboliese inkleding en kleurgebruik betref.

Volgens die Kerkorde (Ordinansie 5), is die tye in die jaar wat deur ons Kerk gevier word, die volgende:

  1. Die vier Adventsweke en Kerkfees
  2. Die lewe en werk van Jesus Christus in die wêreld (Epifanie)
  3. Die sewe Lydensweke, Goeie Vrydag en Paasfees
  4. Hemelvaart
  5. Pinksterfees
  6. Drie-eenheidsondag
  7. Die uitbreiding van die kerk (Koninkrykstyd)
  8. Die wederkoms van Christus, die eindoordeel en die ewige lewe (Eskatologie)
Die Kerkjaar

Die Kerkjaar

 

Die liturgiese Kleure, wat aandui waar in die liturgiese jaar ons ons telkens bevind en wat vir die blomme en klede in die verskillende tye gebruik kan word, kom uit ’n lang ekumeniese tradisie. Die kleure is nie willekeurig daargestel nie, maar spruit enersyds uit Bybelse gegewens en andersyds uit die simboliese waarde wat aan kleur geheg word. Swart en pers word byvoorbeeld met rou geassosieer, wit met suiwerheid en reinheid, goud met feestelikheid, groen met groei, rooi met vuur en wynrooi met bloed. Tussen die kleure wat in verskillende kerklike tradisies gebruik word, kom soms klein verskille voor wat histories ontwikkel het of wat spruit uit die verskil wat in kulture aan sekere kleure toegeken word.

Die eerste verwysing na kleure in die kerk het die kleur van die Doop aangedui. Die dopelinge is na hul doop in wit geklee. Ook die heiliges waarvan daar sprake is in Openbaring, is in wit geklee. Wit word in die kerklike tradisie beskou as die kleur by uitstek vir ’n liturgiese gewaad. Dit teken die priesterskap van alle gelowiges en kan deur alle gelowiges gedra word.

Die moontlike gebruike van kleure – aansluitend by ander tradisies, maar wat ook gepas is vir die Nederduitsch Hervormde Kerk – is die volgende:

Advent                                                           pers

Kersfees                                                         wit en goud

Epifanie                                                         wit en goud

Sondae na Epifanie                                     wit

Lydenstyd                                                     wynrooi

Goeie Vrydag                                                swart

Paassondag en Paastyd                               wit en goud

Pinkster                                                         bloedrooi

Trinitatis                                                       wit en goud

Koninkrykstyd/Eskatologie                       groen

Hervormingsondag                                     rooi (die kleur vir martelare, apostels, evangeliste)

Doop en belydenis                                       wit

Huwelik                                                         wit

Begrafnis                                                       swart

Kerkinwyding                                               wit