Volgens die Bybel in Praktyk

Inleiding

Hierdie Evangelie het na alle waarskynlikheid in die tydperk rondom 65 nC ontstaan, voor die val van Jerusalem in die jaar 70 nC. Die verwagting van komende onheil wat veral in Markus 13 na vore tree, dui daarop dat die Joodse Oorlog van 66-70 nC nog nie sy hoogtepunt bereik het nie. In aansluiting by die vroeë kerklike tradisie en ook gegewens in die Evangelie self, soos taalgebruik (bv. die Latynse leenwoorde), kan redelik seker aanvaar word dat hierdie Evangelie in Rome ontstaan het.

Volgens die vroeë kerklike tradisie was die skrywer Johannes Markus, en het hy Petrus se prediking in Rome opgeteken. Hy was nie een van die twaalf dissipels nie, maar hy het waarskynlik noue kontak met hulle gehad, omdat Jesus en sy dissipels by geleentheid in sy ma se huis vergader het (vgl. Hand 12:12). Heel moontlik verwys hy na homself in Markus 14:51 as die jongman met ‘n doek om sy lyf wat na Jesus se gevangeneming nakend weggevlug het. Ons beskik ongelukkig nie oor genoegsame historiese inligting om hierdie aannames te bevestig nie.
Markus het sy Evangelie waarskynlik in Rome en vir Christene in Rome geskryf. Hulle was ‘n bedreigde godsdienstige minderheid in die hoofstad van die Romeinse Ryk. Markus skryf sy Evangelie hoofsaaklik om sy eerste lesers aan te moedig om in moeilike omstandighede in hulle belydenis te volhard.
Die Markusevanglie is ons oudste Evangelie. Na aanleiding van sy openingswoorde “die begin van die evangelie” (1:1) het die Evangelie as tekssoort waarskynlik beslag gekry. ‘n Evangelie is ‘n besondere vorm van vertelliteratuur. Dit bestaan uit ‘n vertelling van die goeie boodskap oor die koms en optrede van Jesus Christus, die Seun van God. Markus verduidelik en vertolk die betekenis en implikasies van die lewe en werk van Jesus vir die geloofsgemeenskap aan wie hy skryf.

Met die doel om die vervolgde Christene in Rome te bemoedig, beklemtoon Markus die ontsettende lyding wat Jesus ter wille van mense moes deurmaak. Hy tipeer Jesus se optrede en lyding as ‘n diens van Jesus. Die Seun van die Mens het immers gekom “om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie “ (Mark 10:45). Markus waarsku dat iemand wat Jesus as die Christus bely, ook lyding kan verwag en bereid moet wees om te dien. Hy beskryf hoe moeilik dit vir Petrus en die ander dissipels was om gewoond te raak aan die idee van lyding en diensbaarheid (Mark 8:31-10:45). Jesus roep sy volgelinge egter op om moedig en waaksaam te bly. Hoewel Hy diep verneder is, is Hy ook verheerlik en sal met groot krag en majesteit terugkom. Hy sal sy uitverkorenes versamel om in sy heerlikheid te deel. Daarom moet hulle nie moed verloof nie.

Markus plaas baie klem op die lyding en kruisiging van Jesus. Hy beskryf die lydensweg wat Jesus op pad na die kruis moes volg. Reeds vroeg in sy vertelling verwys Markus na Jesus se naderende dood (bv. 2:19-20 en 3:6), en dit word die fokus van die reeks aankondigings oor Jesus se lyding (8:31; 9:31, 10:33-34). Petrus se belydenis by Sesarea-Filippi “U is die Christus” (8:2) vorm ‘n draaipunt in hierdie vertelling. Voor hierdie belydenis word Jesus uitgebeeld as die magtige Seun van God, en daarna word aangetoon waarom Hy tog moes ly.

Inleiding

Markus – Hoofstuk 1

Markus – Hoofstuk 2

Markus – Hoofstuk 3

Markus – Hoofstuk 4

Markus – Hoofstuk 5

Markus – Hoofstuk 6

Markus – Hoofstuk 7

Markus – Hoofstuk 8

Markus – Hoofstuk 9

Markus – Hoofstuk 10

Markus – Hoofstuk 11

Markus – Hoofstuk 12

Markus – Hoofstuk 13

Markus – Hoofstuk 14

Markus – Hoofstuk 15