Eensaamheid is die gevoel wat ons ervaar wanneer ons smag na die geselskap van mense, maar dit nie ontvang nie. Ons kan onderskei tussen eensaamheid wat ontstaan as gevolg van omstandighede buite ons beheer (soos byvoorbeeld deur siekte of gestremdheid) en eensaamheid wat die gevolg is van ons onvermoë om goed met ander oor die weg te kom.

Wanneer ons eensaam is as gevolg van lewensomstandighede, moet ons nooit vergeet dat niks ons ooit kan verhinder om met die Here te kommunikeer nie. Al is ons afgesonder van ander, kan ons nog steeds kontak behou met die Vriend van vriende. Soos een man wat in ’n ouetehuis gewoon het, gesê het: ‘Ek bring al my tyd in hierdie tehuis deur, maar ek lewe in die Here.’

Baie mense is egter nie eensaam as gevolg van hulle omstandighede nie, maar as gevolg van hulle onvermoë om met ander oor die weg te kom. In hierdie behoeftige wêreld waarin ons leef, het iemand eenkeer gesê, kan enigeen vriendskap ervaar, as hy bereid is om vriendskap te bied.

Iemand wat eens baie eensaam was, het die gesogte vriend van baie geword nadat hy sy predikant die volgende woorde hoor preek het: ‘Die beste manier om ’n vriend te hê, is deur self een te wees.’

Hy het huis toe gegaan, op sy knieë gegaan en gebid: ‘Here, vergewe my dat ek meer op myself fokus as op ander mense. Van nou af gaan ek nader aan ander beweeg met dieselfde liefde waarmee U my genader het.’ Soos sy gedagtes verander het van selfgesentreerdheid tot ander-gesentreerdheid, het hy ’n innemende en interessante persoonlikheid ontwikkel. Sy kring vriende het al hoe groter geword en hy was meer spontaan in al sy verhoudings.

Geen Christen is ooit in God se vriendskap verlate nie, maar wanneer ons menslike vriende te kort skiet, hou in gedagte dat wanneer ons van onsself aan ander gee, hulle dikwels hulleself aan ons sal bied.

Teksverse vir oordenking

  • Daar is geen weeskinders in God se familie nie 
    1. 18 “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. – Johannes 14:18
  • Neem een tree nader aan God 
    1. 8 Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. – Jakobus 4:8
  • Hulle wat vra – ontvang 
    1. 9 Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord, jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: Hier is Ek!– Jesaja 58:9
  • God verlaat of verwerp nooit sy mense nie 
    1. 19 Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou sodat jy aan My, die Here, toegewy sal wees. – Hosea 2:19
  • Bring tyd saam met God deur en Hy sal tyd saam met jou deurbring 
    1. 14 Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend. – Psalm 25:14
  • Konsentreer daarop om ’n vriend te wees 
    1. 13 Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid. – Romeine 12:13
  • Laat ander belangriker wees as jyself  
    1. 9 Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. 10 Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. – Romeine 12:9-10
  • Liefde – die vernaamste deug 
  1. 14 Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. – Kolossense 3:14