Sommige mense dink dat Christenskap van ’n mens onmoontlike eise stel deur van ’n gelowige te verwag om almal te vergewe wat hulle seergemaak of verwond het. Maar by God is ‘alle dinge moontlik’. Daar is drie redes waarom ons dit moeilik ag om te vergewe.

Eerstens, het ons nie ’n diep genoeg besef van hoeveel vergifnis ons self ontvang het nie. Die sonde wat ander teen ons pleeg, is onbenullig in vergelyking met die sonde wat ons teen God pleeg – en tog het Hy ons vergewe.

Tweedens, om ’n wrok of woede teenoor iemand te koester wat ons seergemaak het, verleen aan ons ’n gevoel van mag en beheer oor hulle en wanneer ons dit moet prysgee, voel ons ietwat hulpeloos. Maar tog word ons beveel om hulpeloos te wees met die woorde: ‘“Dit is my reg om te straf; Ek sal vergeld, ” sê die Here’(Romeine 12:19). Om te vergewe, vereis dat ons beheer oorgee en die uitslag aan God toevertrou.

Derdens, ons vergewe moeilik as gevolg van wat ’n mens ‘misplaasde afhanklikheid’ sou kon noem. Dit vind plaas wanneer ons verkeerdelik glo dat positiewe interaksie met iemand anders noodsaaklik is vir ons om goed oor onsself te voel en gevolglik beweeg ons weg van afhanklikheid van God tot afhanklikheid van ander. Wanneer hulle ons dan seermaak, voel ons, omdat ons glo dat ons hulle nodig het om te funksioneer, dat hulle ons siel vernietig het. Dit is hoekom die mense wat na aan ons is ons die seerste kan maak. Maar mense kan ons nie vernietig nie; dit kan slegs God doen (Matteus 10:28). Dit is baie makliker om te vergewe wanneer ons besef dat ons lewe nie in mense gewortel is nie, maar in God.

Ons moet onthou dat vergifnis ’n besluit is, eerder as ’n gevoel – ’n daad gebore uit die wil. Jy besluit om te vergewe, of jy daarvoor lus is of nie. Jy verskaf die gewilligheid; God verskaf die krag.

Teksverse vir oordenking

  1. Dink oor hoe vêr Goddelike vergifnis strek

12 So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Psalm 103:12

  1. God – die enigste Wreker van kwaad

19 Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here. Romeine 12:19

  1. Wat God vir ons gedoen het, moet ons vir ander doen

13 Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.Kolossense 3:13

  1. Onvergewensgesindheid ruïneer ons lewens

15 Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.Hebreërs 12:15

  1. Vergifnis – die hoofboodskap van die Christendom

19 Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou. 2 Korintiërs 5:19

  1. Satan kry dit nie reg om ’n vastrapplek te kry onder mense wat vergewe nie

10 As julle hom iets vergewe, vergewe ek hom ook. Wat my betref, as ek iets moes vergewe, het ek dit klaar gedoen om julle ontwil. Daarvan is Christus my getuie. 11 Die Satan moet nie die oorhand oor ons kry nie. Ons ken sy planne maar alte goed. 2 Korintiërs 2:10-11

  1. Ons weiering om ander te vergewe, belemmer God se vergifnis van ons sonde 

25 “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.” Markus 11:25

  1. Wanneer ons weier om te vergewe, het dit ernstige gevolge

35 “So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.” Matteus 18:35