Kyk gerus hierdie video wat die brief van Jakobus behandel –

Inleiding

Oor die ontstaanstyd van die Brief van Jakobus is daar baie onsekerheid. Indien dit deur Jakobus, die broer van Jesus geskryf is, moes dit voor 62 nC ontstaan het. Sommige beskou Jakobus selfs as die oudste geskrif in die Nuwe Testament en dateer dit voor 50 nC. Ander geleerdes plaas hierdie brief heelwat later, te wete rondom die einde van die eerste eeu. Ook oor die ontstaansplek is daar onsekerheid. Dit kon Sirië gewees het.

Die skrywer identifiseer homself as Jakobus, ‘n dienskneg van die Here Jesus Christus (1:1). Volgens oorlewering was hierdie Jakobus die broer van Jesus. Jakobus het as een van die “pilare” van die gemeente in Jerusalem bekend gestaan (Gal. 2:9), en het later die leier van hierdie gemeente geword. Hy sterf die marteldood in 62 nC. op grond van die brief se besondere woordeskat en styl meen baie geleerdes egter dat die outeur nie Jesus se broer was nie, maar eerder ‘n Joodse Christen wat dit op ‘n later stadium geskryf het. Hy was egter goed bekend met die onderrig van Jesus.

Die Brief van Jakobus word gerig aan die “twaalf stamme in verstrooiing” (1:1). Daarmee word die Jode aangedui wat om ekonomiese en politieke redes oor die destydse wêreld versprei was. Uit die brief word dit duidelik dat meerderheid ontvangers minder gegoede Joodse Christene was wat allerlei beproewings moes verduur en aan uitbuiting blootgestel was (1:2-4, 12; 2:6; vgl. 5:4). Daar was egter ook enkele rykes by hulle betrokke (2:2; 5:1-6). Die geadresseerdes openbaar geestelike onvolwassenheid deurdat hulle hulle deur die teenwoordigheid van die rykes laat beïndruk (2:1-7) en sterk aanmoediging nodig het om hulle geloof in dade sigbaar te maak (2:14-26).

Jakobus is waarskynlik bedoel as ‘n algemene omsendskrywe. Dit het die eienskappe van ‘n didaktiese diskoers wat die lesers of hoorders aan die hand van verskeie sake uit die gewone lewe wil help om hulle Christenskap prakties uit te leef. Hiervoor sluit die skrywer onder meer aan by Jesus se onderrig in die bergrede (Matt. 5 -7). Wat styl en inhoud betref, kom Jakobus sterk ooreen met die Joodse wysheidsliteratuur. Die skrywer se sterk beklemtoning van dade is bedoel as regstelling van ‘n lewenshouding wat nalaat om Christenskap in ons daaglikse optrede konkreet te maak.

Doel:

Om die gelowiges tot volharding onder beproewing en tot die praktiese uitlewing van hulle geloof aan te moedig.

Skrywer:

Waarskynlik die Jakobus wat Jesus se broer was, en wat later in die gemeente in Jerusalem gedien het.

Geadresseerde:

 Eerste geslag Christene (waarskynlik meestal Joodse Christene) wat oral verspreid geraak het en buite Palestina gemeentes gevorm het.

Ontstaanstyd:

Of kort voor Jakobus se dood in 62 nC, of in ongeveer 49 nC, voor die apostelvergadering in Jerusalem.

Plasing:

Baie gelowiges moes uit Jerusalem vlug, en het hulle op verskeie plekke in die buiteland gaan vestig. Jakobus bemoedig hulle om onder beproewing te volhard, en om hulle geloof prakties uit te leef.

Kernverse:

“ My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard” (1:2-3).

“ ‘n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood” (2:26).

Verdere opmerkings:

Die brief is in ‘n styl geskryf wat baie Griekse filosowe destyds gebruik het, naamlik in ‘n dialoogvorm tussen die afsender en ‘n denkbeeldige persoon. Die brief maak dus gebruik van ‘n vraag en antwoord-metode, soos wat Paulus ook dikwels gedoen het. 

Oorsig – Bybel in Praktyk

‘n Mens staan dikwels verstom oor alles wat jy op die televisieskerm en in tydskrifte en koerante sien. Daar is die een belofte na die ander dat hierdie of daardie produk jou lewenskwaliteit sal verbeter of die een of ander revolusionêre verandering in jou lewe sal bring. Hierdie tendens sien mens ook in die politiek, veral met verkiesingsveldtogte, wanneer beloftes en voornemens die een na die ander uitgeryg word. Woorde is egter goedkoop, en dikwels kom daar nie veel van nie.

Christene maak hulle dikwels daaraan skuldig dat hulle woorde en hulle dade nie klop nie. ‘n Mens kan nie sê dat jy aan God behoort en deel van sy volk is, en voortgaan om aan die wêreld en sy waardes vas te klou nie. Jy kan die mooiste dinge sê en die pragtigste standpunte hê, maar as jou praktiese lewe van elke dag nie die egtheid van wat jy sê bewys nie, is dit alles nutteloos.

Jakobus konfronteer sonder om doekies om te draai die gelowiges wat so die wêreld (en hulleself!) ‘n rat voor die oë wil draai. Christelike lewenswyse is nie net iets waaroor mens moet praat en waaraan jy moet glo nie; jy moet dit prakties uitleef! “Wat help dit as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red?” (2:4).

Dit is die hoofsaak van dit wat God deur Jakobus in hierdie brief vir jou sê. Jou lewe van elke dag is soos ‘n televisieskerm wat wys wat daar tussen jou en God gebeur, wat wys of jy regtig in God glo en jou aan Hom onderwerp het.

Jakobus begin sy brief met ‘n tipiese briefaanhef (1:1-2), en daarna roep hy die gelowiges op om bly te wees wanneer hulle beproef word (1:2-18). Hy verduidelik waarvoor God beproewings gebruik (1:2-12), waar versoekings vandaan kom (1:13-15), en watter positiewe rol god in die gelowige se lewe speel (1:16-18). Hy beklemtoon dat gelowiges bereid moet wees om ander se standpunte te eerbiedig (1:19-21), en om nie net die woord aan te hoor nie, maar dit ook te doen (1:22-27). Hy wys dat gelowiges ander nie volgens hulle uiterlike mag beoordeel nie (2:1-13).

In die grootste deel van sy brief (2:14-5:20) skryf hy oor die verhouding tussen geloof en dade. Eers wys hy dat geloof wat nie lewenspraktyk word nie, geen ware geloof is nie (2:14-26), en daarna gee hy riglyne vir die praktiese uitlewing van mens se geloof. Hy doen ‘n beroep op die gelowiges om hulle in te span om hulle tong te beheers (3:1-12). Hulle moet ook die wysheid wat van Bo kom, prakties uitleef (3:13-17) in hulle houding teenoor besittings (4:1-3), in hulle onderwerping aan God (4:4-10), in hulle verhouding met hulle medegelowiges (4:11-12), in hulle afhanklikheid van God (4:13-17), in hulle rykdom (5:1-6), in hulle volhardende wag op die Here se koms (5:7-11), in hulle integriteit (5:12), in hulle swaarkry en vreugde (5:13), en in hulle siekte en sonde (5:14-20).

Hierdie brief is dus vol praktiese riglyne vir jou lewe. elke gelowige wat die woorde van hierdie boek biddend ter harte neem, sal besef dat ‘n Christen se lewe wys of hy/sy regtig ‘n kind van God is. Word ‘n dader van hierdie woord!